’n Passie vir die gemeenskap en ’n begeerte om meer te doen.
Dié eienskappe het daartoe gelei dat Zoë Barends (18) as junior burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit aangewys is.
Dié graad 11-leerder aan die Hoërskool Weston is die tweede junior burgemeester vir die munisipale gebied. Zoë meen hoewel sy baie senuweeagtig is oor die uitdagings wat met die titel as junior burgemeester gepaard gaan, sien sy daarna uit om ’n verskil te maak.
“Ek is baie geërd om die titel te hê, maar niemand het ’n titel nodig om werklik ’n verskil in hul gemeenskap te maak nie. My passie is om vir jong mense te wys daar is beter dinge om jou mee besig te hou as drank, dwelms en tienerswangerskap,” sê sy.
Eunice Adonisi, koördineerder van die juniorraad, sê Zoë se gretigheid om mense te help, spruit uit die voorbeeld wat haar verpleegster-ma en krieketklublid-pa aan haar gestel het.
Zoë se ouer suster was ook ’n lid van die eerste juniorraad wat in 2017 verkies is.
Die tiener sê haar groot plan is om haar portuurgroep te wys daar is meer in skoolgaan as om net die skoolbanke vol te sit, maar liewer om iets met die geleentheid van opvoeding te maak. Sy meen sport is nóg ’n dryfveer vir jeugontwikkeling aangesien sport ’n geleentheid aan jongmense bied om uit te styg. “Ek was lid van die skool se meisiesrugbyspan en het gehelp om ’n stapklub te begin,” vertel sy.
Zoë se ander buitemuurse aktiwiteite sluit noodhulp in wat sy sekerlik as voorbereiding vir haar toekoms sien, aangesien sy ná skool in die mediese veld wil gaan werk.
Volgens haar vriendin, die junior speaker Shanelle de Villiers (19), is Zoë die ideale kandidaat vir die pos aangesien sy ’n omgeehart het. “Sy gee baie om vir haar gemeenskap. Sy is ook nie bang om haar mening te lug nie en ek dink die planne wat sy het is beslis in pas met wat ons (as die jeug) nodig het,” meen Shanelle.
Adonisi sê een van Zoë se gehalte-eienskappe wat haar die meeste beïndruk, is die inisiatief wat sy neem om self ’n verskil te maak.
Noudat Jeugmaand sy einde nader, sal die Saldanhabaai-gemeenskap moet wag en sien wat Zoë en haar junior raad in hul termyn gaan vermag