Gilmore Solomons, die skrumskakel van Young Hearts, hardloop deur vir sy eerste van twee drieë teen Steenberg’s Cove in die Agterbaai. Foto: Solminic Joseph

Young Hearts het Saterdag sy droomseisoen voortgesit en is steeds die enigste onoorwonne span in die Boland-Grootuitdaagbeker se Weskus-streek. Die troepe van die Grafkelder het Cove in die Agterbaai met 34-13 geklop, nadat hulle rustyd 12-10 voor was.

Young Hearts, wat wankelrig begin het, is goed deur die tuisspan in toom gehou en moes ook alles uithaal. Cove, wat die grootste deel van die eerste helfte in beheer van sake op sy tuisveld was, was ook met enkele minute oor nog 10-5 voor. Young Hearts het egter met ‘n verdoelde drie die neus voor gekry.

Die tuisspan het die besoekers met rotsvaste verdediging op die agtervoet gehou. Young Hearts het gewys dat die span oor genoeg diepte beskik nadat 11 eerstekeusespelers hulle vroeër in die week weens ‘n griepepidemie wat die span getref het, moes onttrek.

Young Hearts het egter die tweede helfte vinnig begin en hul voorsprong vergroot. Die span van Pella het daarna die krane behoorlik oopgedraai en die besoekers, wat goeie rekenskap van hulself in die eerste helfte gegee het, moes toe keer vir al wat hulle werd is.

Die bonuspunt-oorwinning het ook Young Hearts ses punte voor St. Helenabaai geplaas. Met nog twee wedstryde oor in die eerste ronde is dit Young Hearts en St. Helenabaai wat tans die pas aangee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 6 November 2025
    Weslander E-Edition – 6 November 2025