Die “liedjieboer”, Anton Goosen, wat as die vader van Afrikaanse rock ’n roll beskou word, het oor die jare Suid-Afrikaners se harte met sy kleurryke lirieke en sielvolle musiek gesteel, en ná meer as 30 jaar neurie ons steeds saam met tydlose treffers soos “Waterblommetjies”, “Jantjie” en “Trompie”, almal uit die pen van dié legendariese kunstenaar.
Die kunstenaar Elsie Jooste het drie jaar gelede begin om Goosen se bekendste liedjies op houtkitare te skilder. Sy het op dié unieke manier sonder woorde, klanke of frases gestalte gegee aan die kleurryke lirieke wat sy musiek kenmerk.
Nou is dit jou beurt om jou slag met die kwas te wys. Afrikaans.com het vir die Afrikaans.com se skilder met woorde-kompetisie met Anton en Elsie saamgespan en jy en jou skool kan gróót wen,
Nuwe lewe word met dié kompetisie in van Goosen se bekendste liedjies geblaas deur leerders uit te daag om self van sy liedjies te skilder en hul beste werk te vertoon. Dis hoe dit werk:
Met die Afrikaans.com se skilder met woorde-kompetisie word leerders uitgedaag om een van die volgende liedjies deur Anton Goosen te skilder:. “Jantjie”. “Hanoverstraat”. “Waterblommetjies”. “Umfaan”. “Harlekyn”. “Trompie”. “Straattroebadoere”. “My Stellenbosse nonnatjie”
Volg die www.afrikaans.com/wp-content/uploads/2020/10/Anton-Goosen-lirieke.pdf om die lirieke af te laai.
Stuur ’n hoëresolusie-foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans@afrikaans.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gegrond is, daarby.
Inskrywings het al in Oktober 2020 geopen, maar sluit op 31 Januarie.
Wenners sal in die eerste week in Februarie aangekondig word. Deelnemers kan uitsien na geldpryse ter waarde van R22 000.
Individuele pryse is ook op die spel – 10 finaliste kan R500 vir elke finalis wen; top-5-inskrywings kry R1 000 elk en die eerste prys kry R2 000.
Die skool waarin die betrokke leerder is, wen R10 000.