Waar sy ook al gegaan het en met wie sy ook al gepraat het, Mericia Reneé White het ‘n groot indruk op almal gelaat.
Mericia is op 5 Oktober 1978 gebore en is op Maandag 19 Mei aan kanker oorlede, ‘n stryd wat sy sowat ‘n jaar lank gestry het. Mericia was ‘n geruime tyd die skakelbeampte van Langebaan-atletiekklub en het haar rol voltooi toe sy met haar gesin na Australië getrek het.
Volgens Christopher Rodgers, voorsitter van Langebaan-atletiekklub, gaan almal in die klub haar groot hart mis. “Sy was trots op almal en het gelewe vir die klub. Mericia het elke lid spesiaal laat voel met haar spesiale video’s en boodskappe. Of dit nou iemand se verjaardag is, of ‘n prestasie behaal. Sy het ook die klub finansieel ondersteun en hard gewerk om borgskappe te kry.”
Rodgers meen haar plek in die klub sal nooit gevul word nie. “Sy was ‘n vrou van krag, sterk geloof en het ‘n sterk veggees gehad.”
Haar man, Enver White, beskryf sy vrou as warm, liefdevol en nederig, wat ‘n komiese gesindheid gehad het, en een wat lief was om mense te dien.
“Tydens haar siekte was sy ‘n vegter tot die einde en het sy selfversekerd beplan vir die toekoms met haar familie. Haar liefdevolle en nederige persoonlikheid getuig van die baie vriende wat sy gehad het,” vertel Enver.
Livia van As deel dieselfde sentiment dat Mericia ‘n groot liefde en passie vir die klub gehad het asook vir die mense rondom haar. “Ek gaan haar positiewe veggees en energie mis. Hoe sy ‘n negatiewe situasie positief kan verander met net haar woorde en stem. Sy was ‘n mense-mens met ‘n hart van goud.”
Die Weskus gaan haar sowaar mis.