Wonder van die onsigbare hand

Een van my helde in die ekono­miese veld is Milton Friedman (1912 tot 2006).


Een van my helde in die ekono­miese veld is Milton Friedman (1912 tot 2006).

Friedman het onder meer die Nobelprys vir ekonomie in 1976 verwerf en ’n baie gewilde TV-reeks in die 1990’s in Amerika, Free to Choose, aangebied.

Dié reeks het meestal op die wonder van die onsigbare hand gefokus en hoe die vryemarkekonomie werk. Freidman argumenteer dat die vryemark die beste ekonomiese stelsel vir die samelewing in geheel en die enjin vir welvaartskepping is.

Hy verwys ook in die TV-reeks na die mislukkings van staatsinmenging en sentrale beplanning.

Adam Smith het in 1776 in sy boek The Wealth of Nations verwys na die onsigbare hand.

Die onsigbare hand is ’n soort onwaarneembare markkrag wat die vraag en aanbod van goedere reguleer. In een van sy toesprake gebruik Freidman die eenvoudige potlood om die wonder van die onsigbare hand te verduidelik.

Die meeste van ons ken die potlood baie goed, maar dis moontlik nie een van ons waardevolste artikels nie. In die algemeen is ons baie gou om dit eenvoudig weg te gooi.

Min van ons waardeer of verstaan die potlood. Freidman begin sy toespraak deur te sê dat geen enkele mens weet hoe om ’n potlood te maak nie. Eers het die stelling nie veel sin vir my gemaak nie, maar ek verstaan nou dat die potlood sy bestaan aan die onsigbare hand te danke het.Hoe die potlood gemaak word

Om ’n potlood te maak, moet ek weet hoe om grafiet te myn. Om dit te kan myn, moet ek eers weet waar dit voorkom.

Grafiet word oor die wêreld heen gemyn, maar is veral volop in die meeste lande in Asië en veral Sri Lanka. Om grafiet te myn, is nie eenvoudig nie en vereis ingewikkelde wetenskaplike tegnieke en moderne gereedskap en tegnologie. Die grafiet word dan met klei gemeng.

Die sederhout wat vir potlode gebruik word, kom meestal in Kalifornië in Amerika voor. Dit moet splinterweerstandige hout wees. Om die hout te kry, moet ek iets van bosbou weet. Dan benodig ek sae om stompe te saag. Om die sae te maak, het ek staal nodig. Die ystererts word diep ondergronds gemyn en die vervaardigingsproses vir staal is geweldig energie-intensief. Die stompe moet dan na die meule vervoer word.

Die uitveër word van rubber gemaak. Rubber word meestal in Maleisië aangetref.

Hier word ongeveer 46% van die wêreld se rubber geproduseer. Die rubberboom is nie ’n inheemse boom van Maleisië nie, maar is ongeveer 100 jaar gelede uit Brasilië daarheen gesmokkel.

Die uitveër sit in ’n metaalomhulsel, wat uit ’n mengsel van koper en sink bestaan.

Dus, om ’n potlood te maak, vereis ook dat ek weet hoe om bome te verbou en om sae te maak. Ek moet weet waar en hoe om ystererts te ontgin en dan om die ystererts te gebruik om staal te vervaardig.

Ek moet weet hoe om vernis te maak en hoe om rubber van die rubberboom te oes. Daar is dus ’n geweldige hoeveelheid kennis, ondervinding en kapitaal nodig om ’n eenvoudige potlood te maak.

Dit is daarom baie duidelik dat geen enkele mens oor al die kennis, ondervinding en kapitaal beskik om ’n potlood te maak nie.Miljoene sit hand by

Friedman argumenteer dat miljoene mense ’n hand in die maak van ’n potlood het.

Elkeen van hierdie miljoene mense voeg waarde tot die bestaan van die potlood.

Dit is ook duidelik dat geen meesterbrein aan die werk is nie.

Geen sentrale figuur wat die aktiwiteite van die miljoene mense beplan, koördineer of dikteer, bestaan nie.

Elkeen van dié miljoene mense doen hul werk vrywillig omrede hulle baatvind deur hulle arbeid aan te bied.

Mense van verskillende gelowe, ras, geslag, ouderdom, land, taal ensovoorts werk in ’n gemeenskaplik voordelige verhouding.

Net deur die wonder van die onsigbare hand is die bestaan van die potlood moontlik. Maar ook nie net die potlood nie – elke produk of diens wat ons gebruik.

Die “onsigbare hand” bind ons almal tesame, wetend of onwetend.

Ons lewens is dus onafskeidbaar saam tot die onsigbare hand verbind en ons moet dit koester en waardeer.

Die onsigbare hand is ons beste vriend en as ons daarin kan slaag om die onsigbare hand te omhels, het ons geen rede tot kommer vir die toekoms nie.

Geen, maar geen sentrale figuur, gaan of kan ons toekoms beter maak nie – slegs die vryemarkekonomie.

You need to be Logged In to leave a comment.