Ses jong mans tussen 16 en 20 jaar oud het Maandag in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van huisroof verskyn.
Dié gewelddadige rooftog by ’n 41-jarige vrou van Wilgerstraat, Witteklip, se huis die afgelope Sondagoggend (13 Oktober) is net nóg ’n voorval in dié buurt op die koppie langs Louwville.
Die raadslid Leonard Mitchell het tydens die vergadering van die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op Dinsdag 15 Oktober sy hart oopgemaak oor die ongekende geweld waaronder dié buurt die afgelope tyd gebuk gaan.
Hy blameer dit veral op bendes wat snags in groot groepe oop en bloot met panga’s deur die strate beweeg.
“Hulle breek deure oop en vat net wat hulle wil. Die mense leef in vrees.”
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, is die rooftogslagoffer omstreeks 01:00 wakker gemaak met klippe wat op haar dak gereën het. Sy het gesien hoe ses mense – tienerseuns en jong mans – die klippe gooi.
Hulle het ’n halfuur later teruggekom en haar veiligheidsdeur oopgedwing en na haar slaapkamer gegaan.
Die vrou is met ’n vuurwapen gedreig en die rowers is uiteindelik daar weg met die vrou se selfoon, R350 en selfoonlaaiers.
’n Paar uur vantevore het vier gewapende mans Saterdagoggend (12 Oktober) ’n 63-jarige vrou en haar tienjarige kleinseun in Langstertjiestraat, Witteklip, beroof.
Die vrou en haar kleinseun was aan die slaap toe die rowers by die huis ingebreek het.
Die rowers het ’n selfoon geëis, maar hulle is daar weg met net ’n blou baadjie.
Die Vredenburg-polisie ondersoek die rooftogte.