Alida Buckle
In ‘n hofsaak wat bykans ‘n jaar en ‘n half geduur het, is ‘n winkelrower, wat nou 29 jaar oud is, verlede week vyftien jaar tronkstraf opgelê, waarvan ses jaar opgeskort is vir vyf jaar.
Siphenathi Mlanjana het op Dinsdag 26 Desember omstreeks 05:00 ‘n winkel in Draaihoek, ‘n gedeelte van die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, binnegegaan en die eienaar, ‘n vrou, wat vanjaar 36 jaar oud is, wreed met ‘n mes aangeval. Kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-distrikspolisie, het gesê die slagoffer is in haar linkerskouer, linkerhand, net bo haar regteroog en in die kop gesteek.
Mlanjana het haar net so beseer gelos en met geld gevlug. Sers. Nhlekanipho Gumbi van die speurtak in Saldanha was die ondersoekbeampte wat die rooftog ondersoek het. Mlanjana is kort ná die voorval in hegtenis geneem en het die eerste keer op Donderdag 28 Desember 2023 in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van poging tot moord verskyn.
Mlanjana is verlede week – op Dinsdag 13 Mei – gevonnis.
Hy is in 2022 in Worcester vir winkel- diefstal aangekeer nadat hy ‘n T-hemp ter waarde van R299 by Sportscene in die dorp gesteel het. Brig. Zukiswa Bavuma, waarnemende distrikskommissaris, het hierdie vonnisoplegging toegejuig. Sy beskou dit as ‘n waarskuwing aan die publiek: “As jy die misdaad pleeg, sal jy die tronkstraf uitdien.”



