Wilhelm Herbst is terug aan die stuur van die Weskus Sakekamer.
Weslander het hom gevra wat sy visie vir die sakekamer is gegewe al die huidige ekonomiese uitdagings.
Volgens Herbst is dit die hooftaak van die sakekamer om die kleinsakeman en entrepreneur te verteenwoordig.
“Hulle kan dit nie self doen nie, want eerstens werk hulle en tweedens luister die groot honde (soos TPT en die munisipaliteit) nie na hulle nie.”
Dit is vir hom ontstellend dat daar entrepreneurs is wat op eie houtjie met die munisipaliteit en Transnet moet baklei omdat die sakekamer hulle nie help nie.
Die sakekamer gaan daarom ook vergaderings en inligtingsessies bywoon om rooi vlae te hys waar nodig of om lede in te lig oor wat gebeur.
Die sakekamer, as verteenwoordiger van die kleinsakeman, het ook ’n rol om na die omgewing te kyk. Dit geld nie net vir natuurbewaring nie, maar ook rommel langs die paaie, slaggate en onwettige aanbouings.
Die groot maatskappye kan die sakekamer help om die kleinsakeman en entrepreneur te help.
Die sakekamer wil hoor wat lede pla. “Ek gaan my bes doen om die kommunikasiekanale met ons lede oop te kry sodat hulle met ons praat oor wat pla en waar ons kan help,” sê hy.
“Ek glo ’n mens moet die las versprei in vrywillige bewegings soos die sakekamer. Ek sal dus poog om meer mense in die bestuur te koöpteer om sodoende die las op die res ligter te maak. Vanjaar gaan ons roer!”
. Wilhelm Herbst was in Namibië met sy verkiesing as voorsitter van die Weskus Sakekamer. Hy is ’n geregistreerde geografiese inligtingstelsel- (GIS-) praktisyn en erelid van GISSA. Hy is direkteur en aandeelhouer van West Coast Aquaculture.