Wie kan dan nou dié tyd van die jaar ’n vy weerstaan
Die Boland se parseisoen is byna verby en die wingerde begin reeds hul herfs-kombers toon. Maar steeds is daar vele somer heerlikehede soos druiwe, perskes en des meer op winkelrakke.
Maar wat my ook nog veral vang is die heerlikheid van vye met hul diep pers gewaad wat rakke versier.
Waar ek hulle sien, koop ek maar, want die seisoen is kort. Ek hou hulle yskoud in my yskas en as ek oopmaak om iets uit te haal, kan ek dit nie weerstaan om net so na ene te gryp en dadelik daaraan te smul nie.
Doeksag velletjie, stroopsoet pienk binneste met die kleinste pêrelkorreltjies wat heerlik onder jou tande ontplof.
Die eenvoud self van nóg ’n heerlike vrug waarmee ons geseënd is.
Sedert die Bybel se tyd word daar gesmul aan hierdie lekkerte, so vroeg selfs as in die tuin van Eden – dalk die oorsprong van die Adamsvy!
Hierdie vye groei nou op talle plase in die Boland en hieroor is ek tog te bly, want hulle is nou maklik verkrygbaar – ook sonder om meer ’n plaas se geld te kos.
Maak só met vye
Geen kaasbord met sterk sout-kase soos bloukaas en dies meer is volledig sonder ’n paar vye tussenin nie.
So ’n vy ook middeldeur gesny met ’n stuk bloukaas bo-op en onder die oondrooster geplaas vir net ’n paar minute totdat die kaas smelt en borrel, is ’n baie vinnige, maklike maar alte smaaklike peuselhappie.
Ook as ’n slaai, in kwarte gesny op vars roketblare met repies Parmaham oor geskeur, bolletjies bokmelkkaas of labneh (yogurt balletjies), en ’n titseltjie goeie balsamiese vinaigrette of nog beter, granaatstroop, is perfek.
Maar as ’n nagereg gebak in die oond ontpop die ou vytjie in ’n totaal ander ongedierte.
Die Franse maak mos ’n tarte tatin – oftewel onderstebo appeltert – maar ek besluit toe vye is net die regte ding ook hiervoor.
Vye-tarte tatin
Jy benodig
BULLET 12 ryp Adamsvye of soortgelyk
BULLET 70 gram botter
BULLET 3 e. suiker
BULLET ¼ t. pimento
BULLET die gerasperde skil van een suurlemoen
BULLET 1 t. vanieljegeursel
BULLET een vel skilferkorsdeeg
BULLET 100 gram gevlokte amandels, gerooster tot effe bruin
Vir die bloukaasroom:
BULLET 250 ml room
BULLET 75 gram bloukaas
Maak dan só
Jy sal ’n pan of koekpan moet gebruik wat in die oond kan gaan.
Vir hierdie resep werk my vlekvrye pan met ’n deursnee van 25 cm perfek.
Verhit dit op die stoof tot goed warm en plaas die botter daarin. Voeg dan die suiker by en smelt alles vinnig en borrelend saam.
As dit ’n ligte karamel begin vorm ná slegs ’n paar minute, voeg die vanieljegeursel, suurlemoenskil en speserye by.
Wees versigtig dat die karamel nie te donker raak nie, anders begin dit bitter smaak.
Roer goed deur en plaas die vye platkant ondertoe bo-op jou karamel sodat die hele pan knus volgepak is met die vye.
Haal van die hitte af en plaas die vel skilferkors daaroor sodat die rand van die kors oor die pan se bek hang.
Sny die oortollige deeg af sodat dit mooi styf in die pan pas bo-op die vye en druk die rande van die kors langs die vye in om dit mooi toe te vou.
Plaas jou pan in ’n voorverhitte oond van 160 °C vir 25 minute totdat die kors diep goudbruin is.
Haal uit en laat staan vir so 10 minute.
Gly ’n mes om die rand van die pan om net om te verseker dat niks dalk vassit nie.
Plaas ’n opdienbord wat groter as jou pan is bo-op die pan en draai die pan op die bord om sodat die onderstebo vyetert netjies daarop uitval.
Sprinkel die amandels bo-oor.
Vir die bloukaasroom, klits die room totdat dit net begin dik raak. Krummel die bloukaas daarby en klits dan verder tot goed styf, maar nog nie botter nie.
Sit die tert effe warm voor met ’n skeppie bloukaasroom op elke skyf.
En nou kan jy hemel in jou mond proe.
Sit gerus voor met ’n yskoue Bolandse Sauvignon Blanc.





