Vir wie gaan die dolosse reg val? Wie gaan gly en wie gaan bly? Dít is van die vrae wat drie spanne in die Weskus-streek vra en net hulle kan dit beantwoord.
Gaan nog ’n span se uitspeelwedstryd-drome op die Grafkelder vernietig word?
St. Helenabaai se uitspeeldrome het Saterdag op sy tuisveld ’n knou gekry toe hy teen die voormalige Boland-kampioen, Saldanha, met 17-23 vasgeval het.
Paternoster, wat voor Saterdag nog ’n wiskundige kans gehad het om deur te dring, se uitspeeldrome het op die Grafkelder ’n stille dood gesterf terwyl Vredenburg se “Burg Boys” met hul oorwinning oor Langebaan nou in die binnebaan is vir die uitspeelwedstryde.
Die naweek se wedstryde sal bepaal wie gaan en wie bly.
St. Helenabaai sal Saterdag se wegwedstryd teen Vredenburg soos ’n halfeindronde benader terwyl Young Hearts in Saldanha sal probeer om die tuisspan se uitspeel- drome te kelder. Vredenburg moet ook nog volgende week by Mamre besoek aflê en kort vyf punte uit sy twee wedstryde om as streekkampioen gekroon te word.
Dit is wat moet gebeur indien enige van die drie spanne na die uitspeelwedstryde wil deurdring.
Vredenburg, met twee wedstryde oor, kort slegs een wen met ’n bonuspunt om te verseker hulle is die streekkampioen en dring deur na die top-12.
Saldanha, met een wedstryd oor, moet wen om te verseker hulle gaan deur na die top-12. St. Helenabaai, met twee wedstryde oor, het gewis nie die maklikste pad na die uitspeelwedstryde gekies nie. Die Agterbaaiers sal hoop en bid dat Vredenburg albei sy laaste twee wedstryde verloor en St. Helenabaai albei sy laaste twee wedstryde met ’n bonuspunt wen. Indien St. Helenabaai se dolosse reg rol, beteken dit St. Helena kan tweede eindig en Saldanha kan dan as kampioene gekroon word met altesaam 76 punte indien hy sy laaste wedstryd met ’n bonuspunt wen en St. Helena op 74 eindig met Vredenburg in die derde plek op 72. Noudat elkeen se uitspeeldrome in hul eie hande is, kan die volgende twee weke nog baie vuurwerke oplewer. Die volledige uitslae:. Weskus: St. Helena 17-23 Saldanha, Langebaan 20-24 Vredenburg, Hopefield 36-10 Steenberg’s Cove, Mamre 29-22 Piketberg.Swartland: Never Despairs 24-27 Darling, Porterville 24-23 Wesbank, Goodhopes 28-0 Young Eagles, Villagers Wittewater 26-41 Abbotsdale.