Twee leerders van die Hoërskool Weston is in hegtenis geneem en verskeie geskors ná drie dae van amok by dié skool in Louwville, Vredenburg.
Wat presies ’n 17-jarige gr. 9-leerder met ammunisie vir ’n vuurwapen, ’n mes en ’n seinfakkel by die skool wou gaan doen, is nog duister, maar hy is op Dinsdag 15 Augustus voor die skool in hegtenis geneem.
’n Video van die inhegtenisneming is wyd op sosiale media aan die Weskus gedeel.
Die polisie is ontbied nadat die skool die vorige dag, Maandag, aangemeld het dat hulle gevaarlike wapens by ’n gr. 9-leerder afgeneem het, het Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, gesê.
Die polisie het hierop die volgende dag, Dinsdag, leerders se tasse gaan deursoek en beslag gelê op gevaarlike voorwerpe en dagga.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die polisiebeamptes met hul deursoeking twee 9 mm-rondes, ’n mes met ’n groen handvatsel en ’n seinfakkel (flair) in die 17-jarige leerder se boeksak gevind.
Hy het op Woensdag 16 Augustus in die Vredenburg-landdroshof verskyn en die saak is tot 30 Oktober vanjaar uitgestel.
Hammond het voorts gesê dat in nog ’n voorval twee gr. 8-leerders Dinsdag met ’n gr. 9-leerder stry gekry het. “Dit is nog nie duidelik of daar ’n wapen of watter soort wapen in die onderonsie gebruik is nie.”
Woensdag 16 Augustus, ’n dag later, is ’n 18-jarige gr. 10-leerder in hegtenis geneem vir onder meer intimidasie. Dié beskuldigde het na bewering ’n 32-jarige onderwyser gedreig omdat dié hom aangespreek het omdat hy tydens pouse ’n sigaret wou aansteek.
Helfrich het gesê die beskuldigde het baie aggressief geraak en gedreig om die onderwyser aan te rand. Hy het hom glo ook gevloek.
Dié 18-jarige het Dinsdag 22 Augustus in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van onder meer intimidasie.
Hammond het benadruk dat álle skole as gevaarlikevoorwerpvrye-sones verklaar is. “Onwettige middels, insluitend dagga, mag nie op die skoolterrein gebring word nie.”
Die skool het skorsingsbriewe aan die betrokke leerders uitgereik, en hulle sal ná die departementele ondersoek deur ’n volle dissiplinêre verhoor in die gesig gestaar word.
Die saak is by die Safe Schools-program aangemeld wat die skool dienooreenkomstig oor veiligheidsmaatreëls sal adviseer.
Die Safe Schools-program werk saam met skole om veilige skoolomgewings, wat nodig is vir suksesvolle onderrig en leer, te verseker.
Hammond doen ’n beroep op ouers en versorgers van die Hoërskool Weston se leerders om ook hul deel te doen om te verseker dat hul kinders die reëls van die skool respekteer.
“Hierdie soort gedrag is onaanvaarbaar en hou ’n veiligheidsrisiko vir alle leerders en opvoeders in.
“Ons het almal ’n rol om te speel in die handhawing van aanvaarbare gedrag in ons skole,” het sy gesê.