Danksy die ondersteuning van Weslander se jaarlikse gholfdag kon die Weslanderspan die Kersfeesgees in St Helenabaai gaan deel by die Eiland Huis vir Gestremde Kinders.
“Ons het nie woorde nie,” het Jimmy Duncan, stigter van die Eiland Huis vir Gestremde Kinders gesê met die ontvangs van plus minus R2 600 se pakke vleis en poeding.
Die Eiland Huis is ’n nie-winsgewende sentrum wat kinders en volwassenes, wat 24-uursorg as gevolg van fisieke of intellektuele gestremdhede benodig.
Daar is tans 14 inwoners, maar slegs twee wat kan loop en rondbeweeg. Inwoners se ouderdom wissel van ses tot 37 jaar en almal het spesiale uitdagings. Die Eiland Huis is deur Jimmy Duncan begin vir sy dogter, Taryn, ook ’n inwoner.
Van die basiese benodigdhede vir die huis vir gestremde persone is chirurgiese handskoene, elektriese tandeborsels en seep. Elke inwoner het ook ’n spesiale dieet wat gevolg moet word. Weslander sal later vandeesmaand ook skenkings aan ander organisasies in ons verspreidinggebied maak. Meer hieroor in die volgende uitgawes. “Baie dankie aan ons getroue ondersteuners van Weslander se jaarlikse gholfdag,” sê Alet Ellis, Weslander-uitgewer. Die Weslander-kersfonds word onafhanklik deur die Gemeenskapskas bestuur.
Help die Weslander-kersfonds. Enige individu, groep of besigheid is welkom om bydraes tot die kersfonds te maak.
Bankbesonderhede: Community Chest Weslander; FNB 62152032026; Kaapstad-takkode 261150. Faks die betaalstrokie na 022 713 2487. Tjeks wat gekruis is, moet uitgemaak word aan “Die Gemeenskapskas van die Wes-Kaap”, volledig uitgeskryf. Die Weslander-kersfonds word onafhanklik deur die Gemeenskapskas bestuur. Navrae: Joline van der Merwe 022 713 1251.