‘Weslander’ wys beste onnies aan

Dikwels kry onderwysers nie die erkenning vir die belangrike rol wat hulle in die samelewing speel nie. Dus skep Weslander se 2024 Weslander Onnie van die Jaar-kompetisie ’n platform waar onderwysers tydens Oktober se Onderwysersmaand kan skitter.


Dikwels kry onderwysers nie die erkenning vir die belangrike rol wat hulle in die samelewing speel nie. Dus skep Weslander se 2024 Weslander Onnie van die Jaar-kompetisie ’n platform waar onderwysers tydens Oktober se Onderwysersmaand kan skitter.

Nominasies is ontvang deur ouers, leerders en mede-onderwysers, waaruit wenners in elke kategorie gekies is. Die Weslander-joernalis Noluvu Ludidi het die skole op Vrydag 25 Oktober besoek om hierdie goeie nuus met onderwysers te deel wat die verrassing glad nie te wagte was nie.

Simoné Saayman, wenner in die grondslagfase en onderwyseres by Curro Langebaan Voorskool, sê die wen is ’n ongelooflike eer.

“Onderwys is my roeping. Ek voel bevoorreg om deel te vorm van die bou van elk van my leerders se fondasie. Om hul vordering te sien en hul groei van die begin van gr. R tot wanneer hulle na gr. 1 toe moet gaan, is vir my vervullend.”

Marlene van Wyk, Curro Langebaan Voorskool se hoof, sê Saayman is ’n uitmuntende en toegewyde onderwyser wat haar werk met passie doen.

“Hierdie wen is ’n enorme prestasie vir die skool en dien as ’n bewys van die hoë standaard van onderwys wat by ons skool gelewer word. Ons is uiters trots op juffrou Saayman, want haar sukses bring nie net eer aan haarself nie, maar ook aan ons skool en die hele gemeenskap. Dit motiveer ander onderwysers en leerders om ook hul beste te lewer en versterk die trots en samehorigheid in ons skool,” sê Van Wyk.

Vir Melandre Hector, wenner in die intermediêre fase, was die aankondiging ’n emosionele een. Omring deur leerders wat hande geklap het en hul trots getoon het, was dit iets om te ervaar. Ná agt jaar by die Laerskool Saldanha neem Hector aan die einde van die jaar met hartseer afskeid van die skool.

“As mens droom ons altyd daarvan om vergoed te word vir harde werk, maar in hierdie beroep is dit nie iets wat jy altyd kry nie.

“Hierdie toekenning beteken so baie vir my as mens. Om so ’n toekenning te kry, is die perfekte einde vir ’n suksesvolle loopbaan as wiskunde-onderwyser.”

JC Carstens, Laerskool Saldanha se hoof, sê Hector het deernis met leerders en verstaan hul omstandighede.

“Leerders waardeer haar klas en die ondersteuning wat sy bied. Dit vertel ’n mens baie van hoe die leerders haar sien. Die wen wys dat daar wel nog kinders en ouers is wat onderwys geniet en waardering vir hul onderwysers het,” sê Carstens.

Euné Jansen van die Hoërskool Vredenburg is as wenner in die senior fase aangewys, ’n toekenning wat sy ook nie verwag het nie.

“Ek was baie geskok om te hoor dat ek hierdie toekenning ontvang het. Dit beteken regtig die wêreld vir my, want dit dui daarop dat iemand my raaksien en waardeer wat ek vir hom of haar doen.

“Soms voel dit ’n mens het nie ’n doel nie, maar dan is dit sulke goed wat ’n mens herinner dat jy wel iets beteken.”

Bartho Brittz, die Hoërskool Vredenburg se hoof, sê Jansen is ’n baie joviale juffrou wat ’n passie het vir die leerders, maar ook vir haar kollegas.

“Haar passie is aansteeklik en haar borrelende persoonlikheid is ’n voorbeeld vir ander,” sê Brittz.

Weslanderbedank Die Koelkamers vir sy borgskap van konsertkaartjies.

You need to be Logged In to leave a comment.