Weslander help om kinders reg te kry vir skool

’n Honderd seuns en meisies van Witteklip en Louwville se hare is Maandag netjies geskeer of styf gevleg vir die eerste dag van skool.


’n Honderd seuns en meisies van Witteklip en Louwville se hare is Maandag netjies geskeer of styf gevleg vir die eerste dag van skool.

Danksy die vrywilligers wat gereed was met skeermasjiene, sjampoe en haardroërs is kinders by die Witteklip-gemeenskapsaal mooigemaak vir skool.

Die dag was die inisiatief van die gemeenskapsorganisasie, Build a Better Society of Babs, soos hulle bekend staan, onder leiding van Tracey Meyer.

Daar was verskeie stasies opgerig, waar die vrywilligers die meisies se hare uitgekam, gewas en drooggemaak het voor dit netjies gevleg word. Die seuns was nie oorgesien nie en het in rye gestaan om hul beurt af te wag om hulle hare netjies gesny te kry. Daarna is dit deur die vrywilligers gewas en mooi drooggevryf.

Volgens Meyer is die doel van die dag om skoolkinders deftig en netjies te kry voor hul eerste dag van skool. Babs se plan is egter nie net om die kinders skool toe te stuur nie, maar ook deur die loop van die jaar die kinders by te staan deur verskeie projekte soos naskoolse klasse.

“Omdat kinders ons by Weslander na aan die hart lê, het ons nie gehuiwer om betrokke te raak by dié inisiatief nie,” verduidelik Alet Ellis, Weslander-uitgewer.

Weslander het, danksy die hulp van PnP Weskus Mall, die kinders bederf met ’n toebroodjie, sap en ietsie lekker op die dag en ook sjampoe geskenk om die kinders se hare mee te was.

Geld om inisiatiewe soos hierdie te ondersteun word verkry van die Weslander-Kersfonds, wat onafhanklik deur die Wes-Kaap-gemeenskapskas bestuur word.

Benewens die jaarlikse gholfdag wat deur Weslander gehou word om geld in te samel, word individue of onder­nemings uitgenooi om die Weslander-Kersfonds te ondersteun.

Kontakbesonderhede: Community Chest, Weslander; FNB 62152032026; Kaapstad-takkode 261150. Faks asseblief die betaalstrokie 022 713 2487. Vir enige navrae oor die fonds of inisiatiewe bel Joline van der Merwe by 022 713 1251 of stuur ’n e-pos na: joline.vdmerwe@media24.com.

You need to be Logged In to leave a comment.