Plaaslike laer- en hoërskole het ’n suksesvolle atletieknaweek agter die rug.
Die Weskusbyeenkoms vir hoërskole het Vrydag 5 Februarie by die Vredenburg-sportterrein plaasgevind en die byeenkoms vir laerskole Saterdag 6 Februarie by die Smit-sportterrein in Velddrif.
’n Lekker gees het op die pawiljoen geheers by die byeenkoms vir hoërskole en ondanks die hoë temperatuur het leerders nie geskroom om hul skole uit volle bors met atletieksang te ondersteun nie.
Die kompetisie was sterk met Hoërskool Diazville se meisies wat uitgetroon het in die o.14- en o.15-baanitems. Hoërskool Weston het die aflositems oorheers. Curro Privaatskool en Hoërskool Hopefield het geskitter in die velditems.
By die byeenkoms vir laerskole het Noordhoek Primêr geskitter wat naellope betref, Langebaan Primêr het goed gevaar in die langafstanditems en die Langebaanse Topolino en Curro Privaatskole het hul staal gewys in die velditems.
’n Weskusspan vir laerskole, sowel as vir hoërskole, is ná die byeenkomste gekies en dié twee spanne gaan eersdaags Wes-Boland in ’n streeksbyeenkoms verteenwoordig.