Die meerderheid van plaaslike hoërskole se matriekuitslae het in vergelyking met die vorige jaar verswak.
Daar is egter gewis ook talle hoogtepunte rakende die uitslae waarop hierdie skole kan trots wees.
Volgens Avril Daniels, kringbestuurder van die Vredenburg-kantoor van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), het vyf van die ses staatshoërskole in kring 3 (Saldanhabaai-munisipaliteit se skole en Hoërskool Velddrif) se matriekuitslae in vergelyking met 2017 verswak. Hoërskool Vredenburg is die enigste skool wat ’n verbetering getoon het, ’n noemenswaardige 2%. Kring 3 het ook 12 matrikulante met A-gemiddeldes opgelewer.
Hoërskool Vredenburg behaal ’n slaagsyfer van 98,13%, Hopefield 97,67%, Louwville 57,42%, Diazville 81,18%, Velddrif 93,94% en Weston 73,3%.
Hoërskool Hopefield het verras met sy uitslae wat vanjaar swakker is. Dié skool is al bekend vir sy 100%-slaagsyfer.
Hoewel die skool ietwat teleurgesteld is hieroor, is hy steeds besonder trots dat 97,6% van die matrikulante vir verdere studie kwalifiseer en 79% met universiteitsvrystelling geslaag het.
Daniels is nie heeltemal tevrede met die kring se uitslae nie, maar sê egter daar is darem goeie nuus ook.
“Die slaagsyfers het oor die algemeen verbeter. Dit beteken baie meer matrieks het met universiteitsvrystelling geslaag en kan aansoek doen vir ’n baccalaureusgraadkursus,” verduidelik hy.
Curro Onafhanklike Skool Langebaan is die enigste hoërskool (private sektor) in Saldanhabaai se munisipale gebied wat vanjaar met ’n 100%-slaagsyfer kan spog. Dié skool behaal ook 6 A-gemiddeldes.
In kring 2, wat hoofsaaklik die munisipale gebied van Bergrivier insluit, het die plaaslike staatshoërskole baie om op trots te wees met Hoërskole Piketberg en Porterville wat elk ’n 100%-slaagsyfer behaal het.
Hoërskool Dirkie Uys in die Swartland-munisipale gebied, wat by kring 2 ingesluit is, het ook ’n 100%-slaagsyfer behaal. Dié drie skole wat altesaam 21 A-gemiddeldes opgelewer het, se uitslae het verbeter in vergelyking met 2017 terwyl Steynville Sekondêr se uitslae effe verswak het.
Kring 2 het die beste in die Weskusstreek gevaar wat skole in die munisipale gebiede van Saldanhabaai, Swartland, Bergrivier, Cederberg en Matzikama insluit.
Volgens Sanet van Niekerk, die WKOD se kringbestuurder (kring 2) in Piketberg, is die gemiddelde slaagsyfer 87,6%, sowat 1,3% swakker as 2017.
Die kring se mikpunt is om in die toekoms ’n gemiddelde slaagsyfer van 90% te behaal.
Sy sê die hoërskole wat 100% behaal het, was versigtig optimisties oor die uitslae wat op hulle gewag het en eintlik verbaas oor die uitkoms.
Sy glo hierdie sukses bewys dat die bykomende ondersteuning en motivering van leerders met lae punte gewis vrugte afwerp.