Weskussers voel die finansiële druk en met gister (Woensdag) se styging in die brandstofprys sal die rande nog verder moet strek.
Die prys van loodvrye petrol (95 en 93 oktaan) het vandeesweek met R1,27 per liter gestyg, terwyl die prys van diesel met tussen 30c en 32c gestyg het.
Buiten die kosprys en die koste van openbare vervoer soos taxi’s en busse, wat na verwagting saam met die brandstofprys sal styg, sal die meeste min verligting in hul plesiertjies vind.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in die jaarlikse begrotingsrede Suid-Afrika se geldsake vir die volgende boekjaar uiteengesit.
Onderwys kry soos gewoonlik die meeste rande met R1,35 triljoen, wat onder meer vir basiese onderwys, finansiële hulp aan studente sowel as tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding geoormerk is.
Die R259,2 miljard wat aan die gesondheidsektor toegeken word, sal verdeel word onder distriksgesondheidsdienste (R113,1 miljard), sentrale hospitaaldienste (R48,6 miljard), provinsiale gesondheidsdienste (R40,2 miljard) en die bestuur en instandhouding van fasiliteite (R11,3 miljard) en ander dienste (R48,1 miljard).
Gemeenskapsontwikkeling het ’n begroting van R259,7 miljard vir die volgende boekjaar ontvang.
Syfers wat gewis die huishoudelike begroting van begunstigdes gaan beïnvloed, is maatskaplike toelaes. Maatskaplike ontwikkeling sal R378,5 miljard ontvang. Prakties beteken hierdie miljarde ’n R90-verhoging van 1 April af vir begunstigdes wat ’n ouderdomstoelae ontvang, asook begunstigdes van die ongeskiktheidstoelaag. Van 1 Oktober af sal nog ’n R10 bykom, wat die toelaag tot R2 090 sal verhoog.
Kindertoelae verhoog van 1 Oktober af tot R520, en pleegouers sal nou R1 130 vir kinders in hul sorg ontvang.
Die sogenaamde covid-toelaag van R350 sal tot Maart 2024 steeds in werking bly.
Mense wat na ’n glas wyn of sigaret vir genot en ontspanning reik, sal nou ook meer moet betaal. ’n Blikkie bier is 10c duurder, ’n bottel wyn kos 18c meer en ’n bottel hardehout R3,90 ekstra. Die twakkies styg onderskeidelik met R5,47 vir ’n sigaar en 98c vir ’n pakkie sigarette.
“Suiker-belasting” bly vir die volgende boekjaar dieselfde aangesien die sektor herstel van oorstromings en sosiale onluste, het Godongwana gesê.