Van die ses sakemanne en ‘n sakevrou van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad, wat van sowat R300 miljoen se bedrog en markmanipulasie aangekla word, het volgens ‘n fluitjieblaser glo geweet die oortreding kan tronkstraf beteken, maar geglo hulle sal niks oorkom “as niks toegelaat word om uit te kom nie”. Nog drie beskuldigdes word by die saak betrek.
Luidens hofstukke is na bewering op direksievergaderings van die Paternoster Groepbelange Bpk. (PGB) te kenne gegee dat niemand oor die oortredinge sal uitpraat nie – ten aanhoor van die fluitjie- blaser wat ongerymdhede met aandele- verhandeling oopgevlek het.
Lt.kol. Siyabulela Vukubi van die Valke (die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke) het bevestig dat Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Johan Eigelaar (70), Carel Mienie (56), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44) en Albert Marais (68) op Donderdag 29 Mei in hegtenis geneem is. Hulle het dieselfde dag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en die oortreding van beide die Wet op Finansiële Markte en die Maatskappywet – bylae vyf-oortredings wat as ernstige misdade beskou word, met ernstige skade aan individue of die samelewing geassosiseer word en tot langer tronkstraf kan lei.
‘n Lang lys maatskappye
Die beskuldigdes se maatskappye word ook aangekla omdat dié entiteite die markmanipulasie voorgegaan het. Dit behels benewens PGB ook AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe (Albert Marais), Oulap (Pienaar), Visprodusente en Uitvoer- ders (Pienaar en Minnie), Trans-Republikeinse Visserybeleggings (Pienaar en Lubbe), die prokureursfirmas Ingwesen, Feenstra en Marais van Wellington (Petrus Marais) en Marais Müller Henricks van Kaapstad (Albert Marais) sowel as ‘n Durbanvillese ouditeursfirma, PKF Kaapstad (Lubbe en Louw).
Sake teen nog drie beskuldigdes in die saak – Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky – sal voor of op die volgende verskyning by die ander gevoeg word.
Die staat voer aan dat die beskuldigdes tussen 2006 en 2019 – amper 13 jaar – as meerderheidsaandeelhouers die minderheidsaandeelhouers bedrieg het deur aandeelpryse te manipuleer. Die beskuldigdes het na bewering deur vals en misleidende wanvoorstellings van die aandeelpryse minder- heidsaandeelhouers daarvan ontneem om ingeligte besluite oor die verkope van aandele te neem, waardeur hulle verliese van ‘n geraamde R300 miljoen gely het. Die meeste aandele is teen ‘n heelwat laer prys as wat dit werd was, aan die maatskappye AJF Eigelaar en Seuns, Belhoewe en Oulap verkoop.
Aandeelhouers ‘bedrieg’
Die beskuldigdes word daarvan aange- kla dat hulle versuim het om die minderheidsaandeelhouers in te lig dat die aandele reeds volgens ‘n waardasie in 2005 teen R138 per aandeel verhandel het, en daarna in waarde toegeneem het. Die waardasie is gedoen omdat die meerderheidsaandeelhouers ‘n aanduiding wou hê wat dit gaan kos om die minderheidsaandeelhoudings in PGB te verkry.
Hulle is aangeraai dat so ‘n uitkoop ‘n “geaffekteerde transaksie” sou wees. Dié soort maatskappytransaksies vereis onder meer regulatoriese ondersoek en goedkeuring van die oorname- reguleringspaneel.
Die beskuldiges het glo aan aandeelverkopers voorgegee die aandeelprys het in 2006-’17 net van R13,50 tot R16,83 gestyg en dat die mark “gesluit” is.
Die fluitjieblaser, wat die ongerymdhede op die lappe gebring het, het hom in 2014 by PGB aangesluit.
Hy het afgekom op ongerymdhede wat hy op vergaderings en in e-posse aan die bestuur oorgedra het. Meiring Terrant, die destydse bedryfsbestuurder van PGB, het tot 31 Maart 2017 saam met Petrus Marais en die prokureursfirma Ingwesen, Feenstra en Marais alle versoeke vir die aandeleoordrag in PGB sowel as sy houermaatskappye hanteer.
Die fluitjieblaser het later regsmenings ingewin voordat hy die saak by die Valke aangemeld het.
Hy was bekommerd dat binnehandel plaasvind en het regsadvies by ‘n erkende kenner in korporatiewe reg gekry, wat die praktyke by PGB as onwettig uitgewys het.
Die fluitjieblaser het dit aan die direksie oorgedra, wat hom opdrag gegee het om die onwettige praktyk te verander na een wat wettig was.
Hulle wou egter glo nie iets aan die reeds verkoopte aandele doen nie. Van die direkteure het glo aan hom gesê dat “die eier nie meer ontroer kon word nie”.
‘n Restitusieproses is nooit begin nie.
Hofstukke dui verder aan dat die drie beherende aandeelhouers – die Eigelaars, die Pienaars en die Marais- families – die sogenaamde “EPM-blok” sowel as Kobus Pienaar in sy persoonlike hoedanigheid in die eerste jaar ná die waardasie 100% van die aandele wat beskikbaar geword het, gekoop het.
Druk op fluitjieblaser
Die 174 713 aandele wat sedert 2008 deur die EPM-blok teruggekoop is, verteenwoordig ‘n prysverskil van R200 per aandeel, wat aan hulle ‘n onbehoorlike voordeel van R35 miljoen besorg het. Die staat voer aan dat die suksesvolle aankoop van die aandele van ‘n ongenoteerde, openbare maatskappy teen só ‘n tempo en afslag bereik is omdat minderheidsaandeelhouers geen leiding of ondersteuning gekry het oor waar hulle hul aandele kon verkoop nie.
Omdat die fluitjieblaser geweier het om ‘n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken, het die direksie hom dissiplinêr aangekla omdat hy geweier het om terug te staan met betrekking tot onwettige aandelehandel.
Hy het in Oktober 2019 ‘n skeidingspakket van R1 743 134 aanvaar en die maatskappy in Desember 2019 verlaat.
Die fluitjieblaser het strafregtelike klagte ingedien – teen die raadslede, die verskeie maatskappye wat hulle verteenwoordig en ander individue wat die wanvoorstellings teenoor die minderheidsaandeelhouers gemaak en moontlik gemaak het.
Hy het ook Petrus Marais en die prokureursmaatskappy Ingwesen, Feenstra en Marais by die Regspraktykraad aangemeld.
Afgesien van die ongerymdhede met die verkoop en koop van aandele, het hy ook ontdek dat die direkteure van die EPM-blok jaarliks meer as R184 000 as “reistoelae” ontvang het.
Verder het hulle as ‘n groep elke jaar ‘n belastingvrye, private oorsese reis vir een van hulle geëis – dus een direkteur per jaar, een keer elke vier jaar vir elke direkteur.
Beskuldigdes kry borgtog
Petrus Marais het verder die beskuldigdes aangeraai om voornemende verkopers van minderheidsaandele na hom te verwys sodat hy hulle na
bewering sodoende kon intimideer om die aandele vir ‘n fraksie van die werklike waarde te verkoop, tot onbehoorlike voordeel vir die EPM-blok.
Minderheidsaandeelhouers wat hul aandele wou verkoop, is nooit ingelig dat Petrus Marais ‘n nie-beherende direkteur van beide PGB (wie se aandele hy help verhandel het) én Belhoewe (‘n aandeelkoper) is nie.
Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die beskuldigdes is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.
Die beskuldigdes moes hulle paspoorte en ander reisdokumente oorhandig en is verbied om met staatsgetuies in verbinging te tree of hulle te dreig.
Die landdros, Theresa Postma, het in ag geneem dat nie een van die beskul- digdes enige vorige veroordelings het nie.
Adv. Louis van Niekerk, ‘n senior staatsadvokaat van die Kantoor van die direkteur van openbare vervolging in Kaapstad, hanteer die staat se saak.
Die beskuldigdes verskyn weer op Dinsdag 29 Julie in die Vredenburg- streekhof.