Slenters waarmee sosialemedia- bedrieërs vorendag kom, is uiteenlopend, maar mense word steeds – soos die afgelope tyd in die Weskus – ingeloop omdat hulle nie die gevaartekens raaksien of hul eie instinkte vertrou nie.

Wanneer die geld reeds betaal is, kom baie mense eers agter dat hulle gekul is. Of, as die produk weg is, kom mense agter dat vervalste bewys van betalings gebruik is, of vals Facebook-profiele, of gesteelde identiteitsdokumente.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, ondersoek die polisie in die Weskus-distrik ’n string klagtes wat met sosialemedia-swendelaars te make het.

In Langebaan word twee klagtes van bedrog ondersoek: In die eerste saak het ’n bejaarde Langebaner R5 500 aan ’n bedrieër oorbetaal. Die slagoffer het gedink hy is besig om ’n hond koop. Die 70-jarige man het geld vir die hond betaal en amper ook ’n verdere R10 000 vir ’n sogenaamde “krat” en “vervoerkostes” waarop die bedrieër aangedring het.

Net so is ’n 39-jarige Somaliese burger met R20 000 ingeloop. Hy het dit aan ’n man betaal wat aangebied het om sy visumaansoek te “bespoedig”. Dié aansoek is egter van die hand gewys omdat die dokumente wat aangebied is, vervals was.

In Laaiplek het ’n 53-jarige man solank R10 550 van R15 550 aan ’n swendelaar betaal vir “nuwe kombuiskaste”. Ná die betaling het niks egter verder gebeur nie. Die man sit nou sonder die geld, die kombuiskaste en hoor niks van die swendelaar nie.

’n “Onderneming” wat mense ompraat om by hulle te belê, het twee Weskussers ingeloop – ’n 42-jarige vrou van Hopefield wat tussen 27 September en 1 Oktober sowat R7 650 in die “onderneming” belê het, maar nooit haar sogenaamde opbrengste ontvang het nie; en ’n 59-jarige man van Citrusdal wat tussen 30 September en 1 Oktober geld in dieselfde “onderneming” belê het, sonder om enige “wins” terug te kry.

In Saldanha het ’n 39-jarige man R55 000 aan twee swendelaars oorbetaal wat ’n motorfiets op sosiale media wou verkoop. Hy sit steeds sonder die motorfiets én die geld.

Weslander waarsku lesers gereeld om waaksaam te wees wanneer platforms soos Facebook Marketplace gebruik word. Luister na die gevoel dat “iets nie lekker is nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.