Die polisiekonstabel verbonde aan die Vredenburg-polisiekantoor wat in Junie weens korrupsie in hegtenis geneem is, het Woensdag (3 Oktober) weer in die landdroshof verskyn – dié keer op aanklag van gewapende roof.
Keanu Donn (29) het saam met Gillian Daniels (32) verskyn weens ’n rooftog op 29 Augustus in Berghaanstraat, Witteklip.
Die staat beweer dat hulle ’n 23-jarige man omstreeks 12:30 voorgekeer en vir ’n sigaret gevra het.
Hulle het die man glo met ’n hamer aangeval en sy selfoon van hom geroof toe hy sê hy het nie vir hulle ’n sigaret nie.
Donn het in sy hoedanigheid as polisieman in Junie in die landdroshof verskyn omdat hy glo geld – altesaam R85 – van ’n lid van die publiek gevra het om te help om ’n klaringsertifikaat te verkry.
Intussen is die polisieman van die Saldanha-polisie wat weens die noodlottige Noordhoek-sakeroof in Velddrif op Maandag 9 September voorkom, sers. Zola Bapeti (48), steeds in aanhouding.
Die saak waarin hy saam met Lindile Swartbooi (59) en Xolisane Mphontshane (43) op aanklagte van moord, poging tot moord, sakeroof en afpersing teregstaan, gaan Dinsdag 7 Oktober voort.
Swartbooi en Mphontshane staan ook tereg op ’n aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in ’n Klapmuts-saak.
Bapeti is Vrydag 13 September by ’n supermark in Vredenburg in hegtenis geneem ná die gewapende rooftog die voorafgaande Maandag by die Miki-Velddrif-supermark in Noordhoek, waarin Yassin Mphona (35), ’n boorling van Malawi, doodgeskiet en Herman Baumeester (51), ’n plaaslike visserman, gewond is.
Donn en Daniels se hofsitting was teen druktyd nog aan die gang.