Veertig onderwysers in vroeëkinderontwikkeling het onlangs ’n sessie oor ’n merkwaardige nuwe leerhulpmiddel, die Lego Six Bricks, by die Protea Hotel in Saldanha bygewoon.
Dié hulpmiddel is deur Care for Education en die Lego-stigting ontwikkel. Dit help kinders om basiese vaardighede aan te leer, wat noodsaaklik is vir formele onderrig.
Die onderwysers het ná net een dag se bou aan Lego-torings en -monsters die leermoontikhede gesien vir patrone herken, stories vertel, leer balanseer, meet en tel. Dit het hulle oortuig van die onbeperkte moontlikhede van dié opvoedkundige speelgoed.
Die onderwysers is van dagsorgsentrums en -skole in Diazville, White City en Middelpos.
Die geleentheid is in vennootskap met ORT SA Cape deur die Saldanha Bay Oyster Company en Protea Hotel moontlik gemaak. Die onderwysers wat die opleiding bygewoon het, het elkeen ’n stel Lego Six Bricks en ’n Lego Playbox, wat deur die Lego-stigting geborg is, ontvang.
As jou onderneming betrokke wil raak om ’n positiewe verskil in die gemeenskap deur die Lego Six Bricks- en ander besondere programme vir vroeëkinderontwikkeling te maak, stuur gerus ’n e-pos aan alexi@sgh.co.za