Weskuskinders maak skoonskip by eisteddfod

Die drie jaar oue Longacres-privaatskool by Langebaan is verheug oor die skild wat hulle ontvang het as klein skool met die meeste toekennings by vanjaar se Wes-Boland-eisteddfod.


Die drie jaar oue Longacres-privaatskool by Langebaan is verheug oor die skild wat hulle ontvang het as klein skool met die meeste toekennings by vanjaar se Wes-Boland-eisteddfod.

Skoolhoof Jurgens Schreuder is bitter trots en veral bly vir die kinders en personeel se onthalwe. “Hulle het die lang ure ingesit. Dis hul harde werk en tyd.”

Hy meen dat die wye verteenwoordiging van die Weskusstreek se skole beteken dat die onderwys in die Wes-Kaap en land nog fantasties en positief is.

Ander skole wat skilde gekry het vir die meeste toekennings is Laerskool Vredenburg (laerskole), vir die twaalfde jaar agtereenvolgens, Curro Langebaan (gekombineerde skole) en Hoërskool Swartland (hoërskole).

Altesaam 263 medaljes en 24 trofeë is oorhandig aan wenners, gekies uit 5 751 inskrywings vanaf 70 skole.

Vir die veertiende agtereenvolgende jaar het musiekstudente by die West Coast Music Academy (die Akademie) weer die skild vir die meeste toekennings in die musiekafdeling verower.

Al die wenners is tydens die prestige-aand, Vrydag 16 September, by die Laerskool Swartland vereer.

In die kategorieë vir klawerbord en digitale klavier, tromme en perkussie, asook laersnare (lowerstrings) het die Akademie skoonskip gemaak en amper die afdelings klassieke klavier, komtemporêre klavier, blaasinstrumente, kitaar en hoërsnare (higher strings) ook gewen.

Volgens Carina Brown, hoof en direkteur van die Akademie, is die 183 cum laudes, 297 goud, 82 silwer en 11 brons toekennings te danke aan professionele onderrig deur deeglik opgeleide onderwysers. Sy glo dat gereelde groeps-, ensemble- en orkesspel tydens konserte en as gemeenskapsdiens die leerders verder motiveer.

Dié musiekskool bestaan al 21 jaar.

Verskeie toekennings is ook gemaak aan studente van musiekonderwyser Marietjie Steenkamp van Langebaan.

Benewens musiek is daar gesing, met en sonder klavierbegeleiding, en gedans – ballet, klopdans en hip-hop.

In die letterkundige afdeling het die kinders poësie en prosa voorgedra en gelees, ook vir die eerste keer in isiXhosa. Masiphathisane Primêr, wat die eerste keer deelgeneem het aan die eisteddfod, het twee wenners in dié kategorie.

Longacres en Topolino het vanjaar die kunsafdeling oorheers met die Lientjie Blok-kunssentrum en Porterville Privaat Kuns wat elk drie toekennings in die gevorderde kunsafdeling gekry het.

Verder het leerders ook toekennings gekry vir fotografie, spreekkore, ’n poppekas, ’n eenbedryf en ’n dramatiese monoloog.

Vir nog foto’s, gaan na die eisteddfod 2016-fotoalbum op Weslander se Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.