Die bevordering van plaaslike ekonomiese groei en die skep van ’n gemeenskapsgevoel onder Weskus-sakelui is die doelwitte waarop Weskus Local Besighede (WLB) gebou is.
WLB het sy eerste netwerk-ontbyt op 26 Julie 2023 aangebied, waar 10 mense teenwoordig was.
Vandag, meer as ’n jaar later, het dit ’n weeklikse instelling geword. Elke Vrydagoggend kom sakelui van reg oor die Weskus by die RocXi Beach-restaurant in Langebaan bymekaar, waar hulle kennis, insigte en hul ervaring in die sakewêreld deel.
Die besprekings sluit in lesse wat oor die jare geleer is, veranderings in die plaaslike mark en wenke om ’n beter kliënte-ervaring aan die Weskus-gemeenskap te bied – dit alles te doel om elke individu te bemagtig om sy of haar onderneming, of dit nou ’n korporatiewe maatskappy of een-mens-onderneming is, toe te rus met die nodige gereedskap om doeltreffend te wees.
Stephan le Roux, ’n stigterslid en ’n sakeman wat die afgelope 12 jaar aan die Weskus woon en sake doen, verduidelik hy het as bedryfsingenieur waardevolle ondervinding opgedoen en ’n gaping in die Weskus mark geïdentifiseer. Hy het ’n geleentheid raakgesien waar die ouer geslag hul kennis met jonger geslagte – veral dié tussen 25 en 30 jaar oud – kan deel om hulle in hul ondernemings en loopbane te bemagtig.
WLB help om bande tussen sakelui te versterk en bied ’n platform waar entrepreneurs nie as mededingers gesien word nie, maar eerder saamwerk om ’n holistiese benadering tot die bemarking van dienste en ondernemings aan die Weskus te bevorder. Hierdie samewerking skep ’n positiewe ervaring vir almal.
Om die organisasie te struktureer, administratiewe kostes te dek en ’n gevoel van toegewydheid onder lede aan te moedig, word ledegeld van R100 per maand per onderneming gehef, terwyl die netwerk-ontbyt R70 per persoon kos.
WLB het tans 80 aktiewe lede en 500 Facebook lede, terwyl tot 50 mense op Woensdae aanlyn vir ’n saamkuiersessie inskakel.
WLB bied die volgende voordele vir jou onderneming:
1. Toegang tot nuwe geleenthede: Brei jou netwerk uit en ontdek nuwe markte, kliënte en leidrade deur WLB se uitgebreide verbindings;
2. Onskatbare insigte: Maak gebruik van die kollektiewe wysheid van die netwerk om waardevolle terugvoer, raad en inligting te verkry wat jou in staat kan stel om ingeligte besluite te neem en duur foute te vermy;
3. Verbeterde reputasie: Bou jou geloofwaardigheid en betroubaarheid deur jouself met betroubare ondernemings in die WLB-netwerk te assosieer;
4. Voortdurende leer: Bly voor die kurwe deur toegang te kry tot ’n rykdom kennis, vaardighede en beste praktyke, wat binne die gemeenskap gedeel word en wat voortdurende groei en ontwikkeling bevorder;
5. Vernuwing en probleemoplossing: Werk saam met eendersdenkende professionele mense om idees te skep, oplossings te deel en uitdagings aan te pak, wat vernuwing en kreatiwiteit binne jou onderneming aanhits; en
6. Doeltreffendheid en kostebesparing: Gebruik gedeelde hulpbronne, kundigheid en samewerking om bedrywighede te stroomlyn, foute te verminder en algehele doeltreffendheid te verbeter, wat tot kostebesparings en beter uitkomste kan lei.
. Die volgende WLB-netwerk-ontbyt is Vrydag 13 September. Dit vind ook elke Vrydag van die jaar om 7:45 vir 8:15 by RocXi Beach-restaurant plaas. Besoek https://wlb.digital, stuur e-pos na hello@wlb.digital of skakel Stephan le Roux bedags by 079 190 0505 vir nog inligting.