Die Weskus kan trots wees op Bernice van Blerk, ’n onderwyser by die Hoërskool Vredenburg.
Van Blerk het die derde plek behaal in die afdeling vir uitmuntendheid in fisiese wetenskappe by vanjaar se 2024- Nasionale Onderwystoekennings. Sy het vroeër die jaar as die distrik- en provinsiale wenner in dié afdeling geskitter.
Volgens Van Blerk is sy oorweldig deur emosies ná haar derdeplek- prestasie. “Ek het nooit gedink ek sou dit bereik nie. So baie talentvolle onderwysers het ook meegeding, en om tussen hulle te staan, is ’n voorreg. Dit herinner my aan kollegas en leerders wat my ondersteun het,” sê Van Blerk.
Van Blerk sê sy hoop om hulle en haar gemeenskap te inspireer om voort te gaan in die stryd om beter onderwys. “Ek voel ook dankbaar teenoor Jesus Christus, wie se genade my op hierdie pad gelei het. Dit is my geloof in Hom wat my motiveer om elke dag die beste onderwyser te wees wat ek kan.”
Sy raai ander onderwysers aan om altyd te fokus op die liefde vir onderwys en sterk bande met hul leerders te bou en te alle tye betrokke te wees by die leerproses en voortdurend geleenthede te soek om te groei.
Wanneer dit kom by die onderwys en die uitdagings wat dié beroep tans ervaar, droom Van Blerk van ’n land waar elke kind toegang het tot gehalte- onderwys, waar onderwysers ondersteun en waardeer word en waar vernuwing en kreatiwiteit in klasse aangemoedig word.
“Ek wil ’n verskil in my gemeenskap maak deur nie net myself te verbeter nie, maar ook ander onderwysers aan te moedig om hul volle potensiaal te bereik.”
Van Blerk hoop om in die volgende jaar nog meer in haar ontwikkeling as ’n onderwyser te belê. “Ek wil nuwe onderrigmetodes ondersoek en meer interaktiewe leerervarings vir my studente skep. Hierdie toekenning is nie net ’n eindpunt nie, maar ’n aanmoediging om voort te gaan om te groei en te leer. Ek sien uit daarna om my reis voort te sit en hopelik ’n voorbeeld vir ander in die onderwysgemeenskap te wees.”