Die Weskus se uitblinkers – leerders én onderwysers – is Maandagaand by die Saldanhabaai-laerskolesportbanket vereer.
Leerders van die streek se laerskole is vereer vir alles van tennis en swem tot atletiek en gimnastiek.
Heinrich Gabler, Mnr. Suid-Afrika, was die gasspreker by die geleentheid en het die leerders met sy lewensverhaal inspireer – hy het as weeskind besluit om sport te gebruik om sy lewensomstandighede te verbeter.
Heinrich meen danksy een spesiale onderwyser en afrigter wat in hom geglo het, het hy begin glo hy kan iets wonderlik met sy lewe doen. Hy het ook getuig oor die rol wat sy geloof as Christen in sy lewe gehad het.
Die kodewenners vir 2019 was:
Tennis – Pedrie Janse van Rensburg, Topolino Private Skool
Krieket – Joshua Paddock, Curro Langebaan
Atletiek – Ruben Mundell, Curro Langebaan en Xoliswa Khanyile, Laerskool Vredenburg
Netbal – Danielle Julies, Noordhoek Primêr
Rugby – Cheswill Jooste, Panorama Primêr
Swem – Adriaan Louw en Leila Pollicutte, Curro Langebaan
Hokkie – Johen Pietersen, Laerskool Vredenburg en Penelope Cole, Curro Langebaan.
Benewens al die leerders wat vir hul Weskus-, Boland-, Wes-Kaap of nasionale kleure in hul sportkodes vereer is, is van die prestasies van die streek se toponderwysers ook uitgelig:
André Swarts, ’n onderwyser aan Eden Primêr, is as administrateur van die jaar aangewys. Hy is betrokke by atletiek, landloop en rugby van skool- tot Wes-Kaapse vlak.
Die sportman- en sportvrou van die jaar is al twee van Curro Langebaan.
Amy Schmidt (o.11) neem deel aan atletiek, swem, netbal, hokkie en tweekamp. Vanjaar het sy rekords in hoogspring op Boland- en Wes-Kaapse vlak verbeter. Amy is ook as haar skool se meisiesatleet en sportmeisie van die jaar aangewys en is Curro se victrix ludorum vir atletiek.
Haar skoolmaat Ruben Mundell (o.13) het met die prys as sportman van die jaar teruggegaan danksy sy prestasies in atletiek, swem, rugby en hokkie vanjaar. Ruben het op sy beurt rekords by die Weskus- en Wes-Kaapse sportbyeenkomste in die 80 m- en 200 m-hekkies verbeter.
Hy is ook sy skool se victor ludorum vanjaar.