: Annora Mostert (tweede van links) saam met haar Vredenburg-personeel Estelle Schmidt, Luzelle Africa en Henrietta Gordon. Foto: helÉne meissenheimer


Van ’n kamertjie tot die grootste verskaffer van suikervrye en laekoolhidraatprodukte in die land, en dít binne slegs 13 maande . . .

Ontmoet Annora Mostert van Vredenburg, die vrou agter die suksesvolle Anja’s Pantry (voorheen Anja’s Banting Pantry).

Sy is Weslander se Trots Weskus Entrepreneur vir Mei. Vanaf dié maand wil ons maandeliks plaaslike entrepreneurs vier wat, ten spyte van die moeilike ekonomiese tye, ’n sukses maak van hul besigheid.

Vir Annora (58) het dit alles begin toe sy haar leefstyl wou aanpas en sy in Vredenburg nie genoeg suikervrye en laekoolhidraatprodukte kon kry nie.

“Wanneer ’n mens ernstig daaroor is om ’n leefstylverandering te maak, moet jy bereid wees om die inhoud van jou spens te verander (daarom die pantry in ons naam),” vertel sy.

Sy het gevind die gesondheidswinkels fokus op aanvullers en pille, terwyl die supermarkte slegs hier en daar ’n paar suikervrye en/of laekoolhidraatprodukte aanhou.

So gebeur dit dat sy besluit om in haar skuldberadingsonderneming in Voortrekkerstraat, Vredenburg, plek te maak vir ’n winkeltjie wat spesialiseer in gehalteprodukte vir die suikervrye-laekoolhidraat-leefstyl, geskik vir diabete en, bekend gemaak deur prof. Tim Noakes se Banting-dieet.

Die winkel het kopers van Kaapstad en oral getrek.

Gou het ’n tweede winkel in Pretoria gevolg en vandag het hulle 33 takke landwyd en ’n eie industriële kombuis.

Hulle doen ook hul eie produkontwikkeling veral om meer bekostigbare produkte te ontwikkel.

Die gebore Namibiër erken die Heilige Gees as haar mentor wat haar geleer het om na mense te luister en haar huidige man, Orlando, as haar beste vennoot. “Orlando se oë is altyd gevestig op die Koninkryk en daarom is dit moontlik vir hom om die groot prentjie raak te sien. Hy lig my arms op sodat ek kan vlieg.”

Haar eerste man is in 1994 oorlede en sy het toe haar eie bemarkingsmaatskappy geopen.

Nou werk nege personeel in Anja’s op Vredenburg en verskaf die takke landwyd werk aan sowat 50. Haar leuse vir sukses is “wealth creation”, nie “geldmakery” nie.

Wees gefokus op die “perfekte”, is haar raad aan opkomende entrepreneurs. “Moenie afskeep in enigiets nie – groot of klein. Verwag dieselfde van jou personeel. Jy bewys hulle geen guns deur hulle toe te laat om tevrede te wees met afskeepwerk nie.

“Jou besigheidsplan moet reg wees en dan moet jy nie daarvan afwyk nie. Wees wys met hoe jy elke sent bestee. Belê in personeelopleiding en -ontwikkeling. Wees te alle tye gefokus op die behoeftes en goeie gesindheid van jou mark.

“Leer om nee te sê wanneer nodig. Wees in alle opsigte eties . Betaal wat jy moet, hou by jou ooreenkomste en word daardie persoon met wie mense graag besigheid doen.”

Anja’s Pantry trek in Junie na ’n nuwe perseel in die Ipic-sentrum op Vredenburg.

. Nomineer kandidate vir Trots Weskus met ’n e-pos na nuus@weslander.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.