Weskus-hoërskole weer van beste in die land

Vier hoërskole van die Weskus is deur die departement van basiese onderwys as van die land se bes presterende hoërskole aangewys.


Vier hoërskole van die Weskus is deur die departement van basiese onderwys as van die land se bes presterende hoërskole aangewys.

Na afloop van 2017 se matriek­eindeksamen het die departement ’n lys van Suid-Afrika se top­presterende skole (kwintiel 4 en 5) bekend gemaak wat die beste in die seniorsertifikaateksamen gevaar het. Kwintiel 4- en 5-skole verwys na skole wat skoolgeld mag vra en hulpbronne tot hul beskikking het.

Al die skole op die departement se lys het ’n 100%-slaagsyfer behaal.

In die Wes-Kaap het 38 skole die lys gehaal en vier van hierdie toppresterende skole is in Weslander se verspreidingsgebied geleë. Hulle is Hoërskool Velddrif, Hoërskool Dirkie Uys, Hoërskool Hopefield en Hoërskool Piketberg.

Hein Gunter, skoolhoof van Hoërskool Dirkie Uys sê hulle is trots op die feit dat hulle op die departement se lys is, maar weet eintlik al lankal dat hulle een van die beste skole in die Wes-Kaap is. Gunter glo ’n kleiner skool soos Dirkie Uys met minder leerders beteken beter gehalte onderwys.

“Ons is ’n klein skool wat dinge voluit doen. Dis ons wenresep.”

Quinton Engelbrecht, nuwe hoof van Hoërskool Piketberg het vandeesweek amptelik die leisels by die voormalige skoolhoof, Marius Scholtz, oorgeneem.

“Hoërskool Piketberg wil ’n akademiese leier in die Wes-Kaap word en hierdie lys is ’n stap in die regte rigting,” het hy bygevoeg.

“Ons het van die beste en mees toegewyde matriekonderwysers wat ek al teëgekom het,” reken Engelbrecht wat voorheen by topskole soos Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Waterkloof onderwys gegee het.

Hoërskool Velddrif en Hoërskool Hopefield is ook in hul noppies oor die veer in hul hoed.

Wehan Fourie, skoolhoof van Hopefield, sê dis te danke aan toegewyde onderwysers, kinders met ’n positiewe ingesteldheid en betrokke ouers dat die skool so goed presteer.

“Al die harde werk en fokus het vrugte afgewerp,” reken Adri van der Westhuizen, trotse skoolhoof van Hoërskool Velddrif.

“Nou kan ouers sien hulle hoef nie hulle kinders na ander skole te stuur nie. Velddrif is ’n topskool,” beaam Van der Westhuizen.

You need to be Logged In to leave a comment.