Twee besighede van die Weskus het by vanjaar se provinsiale besigheidstoekennings met eerste pryse weggestap.
Anja’s Pantry en Doring Bay Abalone het by die Premier Entrepreneurskaptoekennings (Pera) elk in hul afsonderlike kategorieë gewen.
Die toekennings is Woensdagaand 23 November in Century City toegeken.
Meer as 1 041 inskrywings is vir die 11 kategorieë ontvang.
Anja’s Pantry het die toekenning ontvang vir die mees ontluikende plattelandse besigheid.
Eienaar Annora Mostert en haar span het die afgelope jaar dié gespesialiseerde winkel in lae suiker en -koolhidraat van een tak in Vredenburg na 31 landwyd uitgebrei.
Mostert is in die wolke oor die toekenning en skryf dit toe aan ’n gefokusde besigheidsplan, harde werk en vasbyt.
“My gevoel was ons moet ophou om vir mense te sê wat hulle nie kan eet nie en liewer waardige alternatiewe begin bied.”
Haar besigheidsbestuurder, Estelle Schmidt, voeg by dat hulle slegs produkte van die beste gehalte aanhou. Gehalte is so belangrik vir Anja’s Pantry dat Mostert en haar span ’n industriële kombuis begin het waar hul eie produkte gemaak word.
Darling Sweet, nog ’n trotse Weskus-besigheid, was die naaswenner in die kategorie ontluikende plattelandse besigheid.
Doringbaai se perlemoenplaas is die beste werkskeppende besigheid.
Alan Winde, provinsiale minister van ekonomiese geleenthede, het Doring Bay Abalone veral geprys omdat hulle die enigste aanlandige perlemoen-plaas met ’n swart meerderheid-eienaarskap in die land is.
Die maatskappy se inkoop en gemeenskapsbetrokkenheid is ook uitgelig.
Nóg ’n Weskus-bekende, West Coast Way, was genomineer. Dié Kaapstadse toerismebemarkers is sedert 2014 besig om die Weskus en al sy besienswaardighede aanlyn te bemark. Hulle het derde in die kategorie ontluikende toerismebesigheid geëindig.
“West Coast Way het ’n unieke versameling temaroetes vir inwoners en besoekers, wat graag ’n avontuurlike selfrytoer wil aanpak,” sê stigter Carmen Lerm.