Die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) het die graad 12-leerders van 2017 wat die beste in die streek presteer het, verlede week by ’n spesiale toekenningsgeleentheid vereer.
“Julle het jul ouers, familie en die Weskus trots gemaak,” het die gasheer, burgemeester Harold Cleophas aan die matrieks gesê.
“Julle harde werk en toewyding kan nie ongesiens verbygaan nie”, het hy benadruk.
Carla van der Spuy, streeksdirekteur by FNB, een van die borge van die funksie, voel hierdie jongmense “is rolmodelle en hul prestasies moet nie gering geskat word nie. Ek is opgewonde om hul vordering te volg en ek weet dat hulle groot hoogtes gaan bereik,” het sy bygevoeg.
Die Weskus-onderwysstreek het ’n toename getoon in die getal onderskeidings wat behaal is en Heather van Ster, ’n direkteur by die Wes-Kaapse departement van onderwys het die leerders, skoolhoofde en onderwysers bedank vir hul harde werk.
“Ons is heeltemal bewus daarvan dat daar skoolhoofde en onderwysers is wat alles in hul vermoë doen om te verseker dat leerders hul volle potensiaal bereik. Baie van ons leerders en onderwysers moet onder moeilike omstandighede funksioneer en dit maak die prestasies soveel soeter” het sy bygevoeg.
Die burgemeester het ook skootrekenaars aan sommige van die skole, wat in wiskunde en wetenskap presteer het, geskenk.
“Ons wil graag die agterstande in ons gemeenskappe uitwis. Ons weet dit gaan tyd neem, maar ons vertrou dat vandag ’n tree in die regte rigting is. Wanneer ons in die opvoeding van jongmense belê, belê ons in die toekoms” het Alderman Cleophas gesê.