Die harde werk van toerismebeamptes van die Weskus by die onlangse WTM Africa-handelskou (World Market Travel Africa) gaan beslis vrugte afwerp.
Dié internasionale skou is van 6 tot 8 April gehou by die Kaapse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) en ná dese gaan die Weskusstreek vir seker op die reisplanne van heelwat meer agente en toerbedieners verskyn.
By hierdie belangrike toerismehandelskou het die beamptes 11 verskillende roetes sowel as die produkte en ikone van die streek suksesvol bemark aan toerbedieners en agente van Duitsland, Nederland, Engeland, Switserland, Frankryk, Swede, Denemarke, België, VSA, die Midde-Ooste, Brasilië, Mexico, Indië en Namibië.
’n Uiters suksesvolle sosialemedia-veldtog is van stapel gestuur by dié skou wat wêreldwyd getref het, te danke aan bekwame Weskusagente.