Weskus se blinkste en flinkste atlete het gewys waartoe hulle in staat is by die nasionale Transnet-sporttoernooi wat in Pretoria gehou is.
Meer as 100 leerders van Hoërskool Diazville, Weston, Louwville, Vredenburg, Velddrif en die Weskus Skool het aan atletiek, skaak, netbal en sokker deelgeneem. Die leerders het saam 14 medaljes gekry.
Die seuns-aflosspan het ’n eerste plek in die 4×100 m gekry. Edjerin Salmon (Velddrif), Sydney Markus (Weston), Reno Weir (Weston) en Renaldo Cloete (Weskus Skool) het die baan aan die brand gehardloop.
Die meisies se 4×100 m-aflosspan het silwer ontvang. Die span wat uit Washiema Blaauw (Weston), Anel Jaars (Velddrif), Angeline Brown (Weskus Skool) en Fransien Weimers (Weskus Skool) bestaan, is trots op hul prestasie.
Die aflosspanne se afrigters was Doris Hilten en Anel Conradie van Hoërskool Velddrif.
Angeline het besluit haar prestasie in die aflos was nie goed genoeg nie en het ook ’n goue medalje in hoogspring gewen. Kirsten Johnson (Vredenburg) het haar spies tot in die tweede plek gegooi en keer terug met ’n silwer medalje.
Die netbalspelers het brons vir hul goeie spel ontvang met KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap wat onderskeidelik eerste en tweede geëindig het.
Die netbalafrigters was Yvonne Ryke en Doreen Coetzee.
Plaaslike atlete wat brons verower het, was Franzine Weimers (Weskus Skool) en Rheno Weir (Weston) vir 100 m, Ethan Neo (Vredenburg) vir verspring, Mariska de Bruin (Velddrif) vir gewigstoot, Aisha Lottering (Diazville) en Freddie Victor (Velddrif) vir diskusgooi.
Joseph August (Weston) en die skaakspan het ’n derde plek behaal.
Atlete van KwaZulu-Natal het eerste geëindig met 18 medaljes en die Oos-Kaap as naaswenners met 17 medaljes.