Weskus-atlete ryg die medaljes in

Ure se oefen en harde werk het daartoe gelei dat die Weskus se topatlete hul skole se name in die Boland-laerskole-atletiekkampioenskap in die Paarl hoog gehou het.


Ure se oefen en harde werk het daartoe gelei dat die Weskus se topatlete hul skole se name in die Boland-laerskole-atletiekkampioenskap in die Paarl hoog gehou het.


Atlete van Langebaan Primêr
het hulle goed van hul taak by die Dal Josafat-stadion gekwyt. Jason Ocks (o.12) het aan die 1 200 m-wedloop deelgeneem en is saam met sy spanmaat Tatendaishe Mafumhe (o.10) in die Boland-laerskolespan opgeneem. Tatendaishe het aan die 80 m-wedloop deelgeneem. Die skool het Langebaan-atletiekklub vir sy finansiële hulp asook die klub se afrigtingspan bedank.

By Laerskool Langebaanweg blyk daar iets in die water te wees, want drie van die skool se hoogspringatlete was die naweek lede van die Wes-Bolandspan. By die vorige byeenkoms het die drie – Viwe Blayi (derde), Leander Pholman (tweede) en Jayden Engelbrecht (eerste) die podium volgestaan.

Leander was die naweek vierde terwyl Jayden Engelbrecht vir die vierde agtereenvolgende byeenkoms ’n rekord verbeter het en na die Wes-Kaapse byeenkoms deur is. Jayden het sy persoonlike beste gespring (1.65 m) en was tweede.

Topolino Privaatskool se vier atlete wat die afgelope naweek deelgeneem het, was Cowin Rossouw (o.12) in gewigstoot, Leon Coetzee (o.10) in gewigstoot, Nina Nel (o.12) in gewigstoot en Zaylinn Munting (o.13) in diskus.

Leon is in die Bolandspan opgeneem.

Longacres Privaatskool se Alexander Kotze (o.11; verspring) en Mikhayla Reid (o.12; hoogspring) het Boland-kleure verwerf.

Hopefield Primêr het vanjaar drie atlete wat na die Boland-span deurgedring het. Stervertonings deur Monray Papier (o.12) wat derde in hoogspring was, Queny Papier (o.13) tweede in die 1 500 m-wedloop, en Damion White (o.13) het hulle ’n plek in die Bolandspan verseker.

Damion het goud in die 1 500 m-stap behaal.

Eume Zog (o.13) is vanjaar Noordhoek Primêr se Boland-atleet. Haar vertoning in stap het haar ’n silwermedalje besorg. Sy sal deel wees van die span wat oor twee weke aan die Wes-Kaapse atletiekkampioenskap deelneem. Hier sal atlete van die Boland, WP- en Suidwes-distrik mekaar op die baan en veld aandurf.

Die Hoërskool Porterville pronk ná Saterdag met drie Boland-atlete – Paula Viljoen (diskusgooi), Juan Liebenberg (diskusgooi en gewigstoot) en Nadia Burger (hoogspring).

Die atlete van Jurie Hayes Primêr wat aan die Wes-Boland-byeenkoms deelgeneem het, was Ashpin Jaars en Davino Bambiso (albei in spiesgooi) asook Clement Lewies wat in Vredenburg aan ‘n Wes-Boland-byeenkoms (hekkies o.10) deelgeneem en ’n vierde plek behaal het.

Ashpin (o.14) was derde en Davino Bambiso (o.14) vierde. Hul spanmaat Chad Brown neem eerskomende Saterdag aan die Boland-proewe in die Paarl in die verspringnommer deel.

You need to be Logged In to leave a comment.