Atlete in die Weskus is gereed om die 2025 Comrades-marathon aan te durf. Die Comrades vind plaas op Sondag 8 Junie tussen Durban en Pietermaritzburg.

Die groot geleentheid op die sportkalender lok jaarliks talle atlete van regoor die wêreld. John Hutchinson, ‘n lid van die Langebaan-atletiekklub, maak vanjaar sy debuut en sê hy wou nog altyd graag die Comrades doen, maar was altyd bang.
“Ek is geïnspireer deur Natasha Jantjies wat verlede jaar haar eerste Comrade voltooi het. Ek het besluit om in te skryf en het daarvoor begin oefen. Ek is baie senuweeagtig maar terselfdertyd baie opgewonde.”
Jantjies, wat vanjaar vir die tweede keer deelneem, sê die ervaring van verlede jaar was wonderlik en die ondersteuning van bystanders was iets wonderlik. “Die feit dat ek kan hardloop is ‘n gawe van die Here. Soms onderskat ons onsself in baie dinge in die lewe, maar een ding wat die Comrades my geleer het, is dat enigiets moontlik is as jy jou gedagtes daarop plaas.”
Wilhelm Herrings neem vir die elfde keer deel en sê hy is baie opgewonde om vir die eerste keer met sy groen nommer te hardloop. Hy meen die Comrades-marathon is ‘n uitdaging wat baie hardlopers aanvaar. ‘n Mens moet fisies en geestelik sterk wees.
Johnnie Siljeur neem deel vir sy dertiende keer deel en meen dit is nie ‘n maklike wedloop nie. “Die ondersteuning op die roete is baie goed, asook dié van die ander atlete.”

Wilfred Soegop, ‘n lid van Mykonos Multisport, hardloop vir die vyfde keer. Dié keer hardloop hy ten ere van sy vriend Shandré Pieterse wat op Saterdag 24 Mei doodgeskiet is. Pieterse, ‘n afrigter by die Vredenburg-rugbyklub, se begrafnis vind ook hierdie naweek op Vredenburg plaas.
Al die atlete is opgewonde en sien uit na die dag van gees en goeie sportmanskap.
You must be logged in to post a comment.