Wenke as jy jou motor wil inruil

Is dit nou tyd dat jy jou motor inruil vir ’n nuwe een? Marius Neethling van Santam sê dié proses is nie net ’n geval van gee een stel sleutels in en vat die nuwes nie.


Is dit nou tyd dat jy jou motor inruil vir ’n nuwe een? Marius Neethling van Santam sê dié proses is nie net ’n geval van gee een stel sleutels in en vat die nuwes nie.

Hier is sy vyf wenke vir die beste transaksie:

1. Weet wat jou motor werd is. Maak seker jy weet presies wat jou motor werd is voordat jy na ’n handelaar gaan. Op dié manier is jy verseker jy word die regte ruilwaarde aangebied óf dat jy nie ’n aardige skok kry wanneer jy heelwat minder aangebied word nie. Gebruik ’n aanlyn webtuiste waar tweedehandse motors geadverteer word om vas te stel wat jou motor werd is.

2. Ken die woordeskat. Maak seker jy is vertroud met die woordeskat wat ’n handelaar gaan gebruik. Die kleinhandelwaarde van jou motor is die prys waarteen die handelaar dit gaan verkoop; die markwaarde is die prys wat jy sal kry as jy self jou motor verkoop; en die ruilwaarde is wat die handelaar jou gaan aanbied as jy die motor aan hom/haar “verkoop” as deel van die paaiement op jou nuwe motor.

3. Wil jy ruil of dalk tog eerder verkoop? Besluit of jy regtig jou motor gaan inruil of dalk eerder self verkoop en dan dié geld as eerste paaiement vir jou nuwe motor gaan gebruik. Daar is nie ’n regte of verkeerde manier nie. Maak seker jy weet presies wat die voor- en nadele van albei opsies is.

4. Kan jy die nuwe motor bekostig? Maak seker jy kan wel die nuwe motor bekostig voordat jy met enige ruiltransaksie begin. Dit gaan nie net oor die paaiement nie, maar ook die koste om die motor op die pad te hou. Dit sluit versekering in.

5. Skuld jy nog geld op jou motor? As jy nog geld skuld op die motor wat jy wil inruil, gaan jy eers dié skuld moet afbetaal voordat jy die res op ’n nuwe motor kan bestee. Maak seker wat jou skuld is en lig die handelaar van die begin af hieroor in.Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.