Met slegs twee maande oor van die 2024-kalenderjaar begin dié vir wie dit beskore is dagdroom oor die langverwagte Desember-vakansie wat wink.
Die Weskus bly in Desember-vakansies ’n gewilde toeristebestemming vir vakansiegangers vanweë sy ongerepte natuurskoon en paradys-strande, talle buitelug- en kindervriendelike aktiwiteite en restaurante. Maar so graag soos ’n mens in die ideaal van ’n droomvakansie verlore wil raak, is die realiteit dat die feestyd ook die tyd is wanneer misdadigers die meeste munt slaan.
Ongelukkig begin die feestyd elke jaar ’n bietjie vroeër en is dit nou reeds die tyd om op jou hoede te begin wees met allerhande feespromosies wat die kop begin uitsteek.
Maak seker die verblyf wat jy bespreek, bestaan wel as dit nie op geakkrediteerde verblyfwebwerwe bespreek word nie en doen nogtans moeite om resensies te lees.
Gaan sorgsaam te werk met aanlyn transaksies en moenie net blindelings geld oorbetaal vir goedere wat op sosiale media geadverteer word sonder om daarna te gaan kyk nie.
Die Weskus-polisie het Maandag ook hul feestyd-veiligheidsplan in Malmesbury bekendgestel en is doelgerig om nie toe te laat dat misdaad in die feestyd toerisme kelder en sakeondernemings die spit daarvan moet afbyt nie.
Tog het dit ook elke vakansieganger se verantwoordelikheid geraak om nie nalatig te wees nie. Die dae van met oop deure slaap, voertuie ongesluit los en fietse en speelgoed buite los, is ongelukkig lank reeds verby en kan ’n vakansie vinnig in die wiele ry.
Winkelsentrums is een van die plekke waar diewe toeslaan. Maak dus seker jy het te alle tye ’n goeie greep op jou persoonlike besittings.