Februarie staan alom bekend as die maand van liefde danksy Valentynsdag wat op 14 Februarie gevier word. Dié dag dra groot kommersiële waarde met talle wat hul geliefdes met blomme, sjokolade en geskenke bederf om hul liefde en dankbaarheid te betoon.

Hoewel dit ’n mooi gebaar is, moet die dag eerder dien as herinnering aan die liefde en respek wat jy en jou geliefde beloof het om elke dag aan mekaar te gee, maar ook aan die woord in die Skrif wat ons daaraan herinner om elke dag ook ons naaste lief te hê soos onsself.

Dit loop hand aan hand met medemenslikheid, deernis en respek. Ons is dikwels baie vinnig om ander se foute uit te wys – veral op sosiale media, waar mense gedurig onder kritiek deurloop; soms vir die kleinste dingetjie, soos om bloot ’n (onskuldige) vraag te vra.

Dit bring ons by “ons naaste soos onsself liefhê”, want die vraag wat elkeen van ons onsself moet vra in elke situasie waarin ons mense wil kritiseer, afbreek of oordeel, is hoe ons sou voel as ons aan die ontvangkant van daardie kritiek of oordeel was. Ons as mense gaan altyd verskil – van opinies, voorkoms, kultuur en persoonlikheid – maar dít is wat ons uniek maak.

Almal sal nie by almal aanklank vind nie, maar ons kan mekaar verdra en respekteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025