Vier lede van die Suid-Afrikaanse Weermag se 4 Spesiale Magte is Vrydag 6 November in die vroeë oggendure met ’n groot hoeveelheid dagga naby Melkbosstrand betrap.
Die vier, wat in Langebaan gestasioneer is, se voertuig is ná ’n jaagtog by die Melkbos-afdraai tot stilstand gedwing. Die vier lede was vermoedelik op pad huis toe, toe hulle die duur aaptwak in ’n weermagvoertuig vervoer het. Volgens kapt. Liza Munro, ’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, is die voertuig in die oggendure op die R27 (Weskus-pad) deur lede van Atlantis-polisie opgemerk.
Sy sê die polisiebeamptes het eers vermoed dit is perlemoensmokkelaars en het agterdogtig geraak toe die soldate voet in die hoek sit. Die troepe is egter naby Duynefontein deur die polisie ingewag, maar het deur die padblokkade gejaag. Die polisie het verskeie skote op die wegjaende motor gevuur. Die verdagte voertuig is later by die Melkbos-afdraai tot stilstand gedwing en dagga met ’n straatwaarde van sowat R50 000 is in die weermagvoertuig gevind. Die vier het Maandag (9 November) in die Atlantis-landdroshof op aanklag van handel in dwelms verskyn en die bestuurder is ook aangekla van poging tot moord en roekelose bestuur. Die verdagtes – Vuyani Bara (51), Ntozamo Daweti (35), Garfield Daniels (33) en Yonela Mkhona (30) – is elk op R2 000-borgtog vrygelaat en moet op 10 Desember weer in die hof verskyn