Nie alle eienaars (verhuurders) en huurders is bewus daarvan dat wysigings aan huureiendomswette (Wysigingswet op Huurbehuising, Wet 35 van 2014) sekere punte stipuleer wat in elke huurkontrak moet verskyn nie. Verskeie bepalings van die Verbruikerswet moet ook in die opstel van ’n huurkontrak in gedagte gehou word. Belangrike sake wat in elke huurkontrak aangespreek moet word, is:

Huurtydperk: ’n Residensiële huurkontrak mag nie vir langer as 24 maande opgestel word nie, behalwe as ’n langer kontrak die huurder aansienlik bevoordeel.

Kennistydperk vir huurder: Al teken ’n huurder ’n langtermyn kontrak, hoef hy ingevolge die Verbruikerswet (indien sy of haar jaarlikse omset minder as R2 miljoen is), net 20 werksdae kennis aan die verhuurder te gee, sonder om redes te verstrek waarom hy of sy die kontrak wil beëindig. Die verhuurder mag die huurder hierop wel redelik beboet. Dit is daarom belangrik dat die bedrag van so ’n boete in die kontrak aangebring word. Die huurder moet bewus wees daarvan en dit aanvaar.

Kennistydperk vir verhuurder: ’n Huurkontrak moet vir ’n vasgestelde tydperk opgestel word en wetgewing bepaal dat die verhuurder nie langer as 80 dae en nie korter as 40 dae voor die verstrykingsdatum die huurder skriftelik in kennis moet stel dat hy of sy die kontrak wil beëindig, of verleng.

Deposito: Ingevolge die reg moet ’n deposito in ’n rentedraende rekening gehou word ten bate van die huurder. Eienaars mag nie meer dié deposito gebruik om gebreke te herstel of dit vir enige ander rede aanwend ten tyde van die kontraktydperk nie.

Gebruik van deposito vir skade: Die huurkontrak moet dit duidelik stel dat indien die huurder nie die eiendom in dieselfde toestand, gewone slytasie in ag geneem, aan die verhuurder terugbesorg nie, die verhuurder die reg het om die deposito plus rente aan te wend om die nodige herstelwerk te doen. Die verhuurder moet die bewys van uitgawes aangegaan (kwitansies) aan die huurder voorsien.

Residensiële huurkontrakte word aan Allens Real Estate se kliënte (eienaars en huurders) voorsien wat hulle goed inlig wanneer hulle ’n huurtransaksie aangaan.

Eiendomsgroete, Cheryl Allen


. Allen’s Real Estate kan by

022 713 3180/083 259 1725 of per e-pos by vredenburg@allensrealestate.co.za gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.