Weslander berig vandeesweek die soveelste keer oor Weskussers wat uit hul geld bedrieg is (lees berig op bl. 2).

Volgens die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) se 2024-bedrogstatistieke was daar ’n 32% toename in aangemelde bedrogvoorvalle in vergelyking met die vorige jaar. Bankbedrog het tot 45% van die voorvalle bygedra, gevolg deur die mikrofinansieringsektor teen 19% en kleinhandel teen 14%.

Die hartseerste bly dat die meeste van die slagoffers wat ingeloop word, bejaardes of diegene is wat reeds op die broodlyn lewe.

Ten spyte van talle waarskuwings deur die polisie en beriggewing deur Weslander blyk dit steeds dat mense nie gehoor gee aan die pleidooie om nie vir hierdie skelmstreke te val nie. Die beginsel was nog altyd – as iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik so.

Maar hoe gemaak wanneer sosiaal-maatskaplike probleme en ’n swak ekonomiese klimaat die mees weerloses in so greep van desperaatheid het dat hulle enigiets wat die “belofte” van ’n bietjie welvaart bied, najaag?

Die meeste bedrog in die Weskus vind op sosiale media plaas – produkte word op sosialemediaplatforms te koop aangebied en kopers is baie vinnig om geld oor te betaal aan die “verkoper” voordat hulle nog die item self gesien of dit in ontvangs geneem het, waarskynlik omdat hulle nie die spesiale aanbod of goedkoop prys wil oorsien nie.

Ons almal hou van die idee van ’n winskopie of vinnige welvaart, maar die enigste manier om werklik verseker te wees van ’n betroubare inkomste, is deur harde werk. Werk dus slim met jou geld en moenie vir goedkoop truuks val nie.

You need to be Logged In to leave a comment.