Diere kan nie vir ons sê hulle kry koud of voel siek nie, en daarom is dit die eienaar se plig om waaksaam te wees. Koue weer kan nie net siektes veroorsaak nie, maar bestaande probleme vererger. Vinnige herkenning en optrede is belangrik en kan letterlik jou troeteldier se lewe red.
Troeteldiere met kort pelse, soos windhonde of Jack Russells, het nie in die winter dieselfde isolasie as langharige rasse nie. Veral klein diere, babadiere en ou of siek diere is kwesbaar vir algemene gesondheidsprobleme in koue weer. Kyk uit vir:
• Hipotermie (dier se liggaamstemperatuur is aansienlik laer as normaal) kan ontstaan wanneer ‘n dier te lank aan koue blootgestel is en sy liggaam nie warm genoeg bly nie. Dit is ‘n lewensgevaarlike toestand.
• Vriesbrand kan op ore, stert en pote voorkom waar bloedsirkulasie in koue vinnig afneem. Die vel kan bleek of blouerig word – later selfs hard of dof.
• Verergerde artritis, gewrigspyn, ontsteking en styfheid, veral by ouer diere.
• Verkoue en griep, want diere se lugweë is sensitief vir koue lug en wisselende temperature – veral as hulle reeds ‘n verswakte immuunstelsel het.
Wees op die uitkyk vir gedragsveranderings in jou hond of kat, soos as hulle:
• ongewoon stil of traag raak, meer lê, nie wil speel nie en stadig reageer,
• met moeite opstaan, styf of mank loop. (dit kan gewrigs- of spierpyn aandui),
• knorrig of teruggetrokke raak (hulle ervaar dalk pyn),
• skielik ‘n verlies aan eetlus het of buitensporig dors is,
• slaappatroon verander, hulle sukkel om te rus of buitensporig baie slaap.
Fisieke siektesimptome sluit in:
• Hoes, nies of loopneus (verkoue, griep of selfs ‘n ernstiger respiratoriese infeksie);
• Vinnige, vlak asemhaling, hyg of piepende asem.
• Aanhoudende bewing. (‘n Klein rilling is normaal, maar as dit nie ophou nie, is dit waarskynlik hipotermie).
• Koue pote, ore of stert (swak bloedsirkulasie of vroeë vriesbrand).
• Bleek of blou tandvleis (‘n noodsein oor suurstoftekort, bloedsirkulasieprobleme of dalk bosluiskoors).
• Braking of diarree (veroorsaak vinnige ontwatering).
• Geswelde gewrigte of mankheid.
Tyd vir veearts?
As jy enige van bogenoemde tekens sien – selfs al lyk dit gering – skakel eerder jou veearts. Diere se gesondheid kan vinnig agteruitgaan.
Skryf hul simptome neer: Hoe lank dit al aanhou, enige veranderings in gedrag, eetlus, temperatuurblootstelling en vorige gesondheidstoestande. Hierdie inligting help die veearts om vinnig en akkuraat te diagnoseer.
Voorkoming
Hier is eenvoudige maniere om jou troeteldier veilig en warm te hou:
• Hou troeteldiere binne, veral op yskoue dae of snags.
• Voorsien ‘n winddigte, waterdigte hok met komberse of strooi indien jou dier buite moet wees.
•’n Warm baadjie vir klein hondjies of dunpelsrasse kan baie help.
• Kyk daagliks dat die troeteldiere skoon water het.
•’n Jaarlikse gesondheidsondersoek help om probleme vroeg op te spoor.
Die liefde wat jy vir jou troeteldier het, wys in hoe jy hulle versorg. Jou oplettendheid is hul eerste verdediging teen siektes en jou sorg is hul grootste beskerming.


