Twee minderjarige seuns is verlede week saam met drie mans in Vredenburg op aanklag van moord in hegtenis geneem nadat ’n man in die hospitaal aan steekwonde gesterf het.
Die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich het gesê die polisie het Donderdagaand op ’n klagte oor ’n bakleiery in Nackerdienstraat, Witteklip, gereageer.
Met die polisie se aankoms het ’n weldoener die polisie se begeleiding gevra om die beseerde, Eduardo Talmakkies (26), tot by die Vredenburg Provinsiale Hospitaal te neem.
Talmakkies, wat ’n oop wond aan sy keel gehad het, het by die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Conwille Roedolf (18), Luandile Sokapasa (26), Elgin van Wyk (19) en twee minderjariges, onderskeidelik 14 en 16 jaar oud, is vir sy moord aangekeer.
Hulle het Maandag in die landdroshof verskyn.
Waaroor die onderonsie gegaan het, is nog nie duidelik nie, en die polisie ondersoek die saak verder.