Die afgelope naweek is vyf mense in die Weskus dood en talle beseer in vier ongelukke wat vele families met stukkende harte en onbeantwoorde vrae los.
In die eerste voorval die afgelope Saterdag (9 November) is Jenna Koen (19) en Jaundré Koen (18) van Velddrif ernstig beseer in ’n botsing teen ’n polisievoertuig in Oostewalstraat, Langebaan. Nog twee insittendes is lig beseer (berig op bl. 5).
Dieselfde aand omstreeks 20:30 het tweelingsussies hul lewe in Saldanha se hoofstraat in ’n motorongeluk verloor en drie van hul vriende is beseer.
Zoë en Alex Arends (22) is op die toneel oorlede (berig op bl. 2).
Sondagoggend omstreeks 05:50 is die 17-jarige Brian Jansen in ’n ongeluk by Moorreesburg oorlede. Hy was ’n leerder aan die Riebeek Spesiale Skool (berig op bl. 5).
Sondagmiddag is twee vroue, die 49-jarige Virna Botha (Fortuin) van Vredenburg en Elaine Rhodes (66) van Concordia, Namakwaland, wat op pad was na haar familie in Paternoster, op slag dood toe die taxi waarin hulle onderweg was, gerol het (berig op bl. 2). Die bestuurder het tussen Nuwerus en Vanrhynsdorp beheer oor die voertuig verloor. Nog vyftien passasiers is in die ongeluk beseer. Verskeie mense is nog in die hospitaal.
Volgens kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, word vier strafbaremanslagsake ondersoek.
Hoewel nie een van die bestuurders al aangekla is nie, word alle aspekte van die sake nou deeglik ondersoek, waarna inhegtenisnemings heel moontlik kan volg.
Boonop is ses mense die naweek weens dronkbestuur en vier weens roekelose en nalatige bestuur in die gebied in hegtenis geneem.