Die polisie is ontbied toe ‘n 50-jarige man glo Maandagaand sy vuurwapen op ‘n ANC-verkiesingsveldtog in Eendekuil gerig het.
Volgens Billy Claasen, die ANC se wykskandidaat vir Wyk 5 van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), was hulle besig met ‘n “vreedsame verkiesingsveldtog” toe die voorval kort voor 18:00 plaasgevind het.
“Die man het met sy bakkie die pad versper waarin ons trok gery het en toe sy vuurwapen op die bestuurder gerig,” het Claasen aan Weslander gesê.
Claasen vertel die bestuurder van die trok het toe uitgespring, waarna ANC-lede op die bakkie afgestorm het en die sleutels uitgeruk het. Die plaaslike polisie is toe ontbied. Claasen beweer ook daar was ‘n skokstok in die man se bakkie.
Volgens speursers. Donovan Links van die Eendekuil-polisie, is ‘n saak geopen vir die rig van ‘n vuurwapen, maar is die man, wie se naam aan Weslander bekend is, nie meer in arres nie.
Op foto’s wat deur Sammy Claassen, die ANC se burgemeesterkandidaat vir BM, op Facebook geplaas is, kan gesien word hoe die man in ‘n polisiebakkie gelaai word, en hoe die polisie met sy vuurwapen staan.
Billy Claasen sê as die man nie meer in aanhouding is nie, is dit “verkeerd” van die polisie, en baie gevaarlik. Hy beweer die man is glad nie aan hom bekend nie.
Die ANC se verkiesingsveldtog het ná die voorval in Piketberg voortgegaan.