Vroueoggend vol positiwiteit

Dit was ’n oggend van kleur en geur toe die Weskus-vroue by Weslander se Vroueoggend byeengekom het.


Dit was ’n oggend van kleur en geur toe die Weskus-vroue by Weslander se Vroueoggend byeengekom het.

Dié prag-geleentheid het Vrydag (30 Augustus) by Soverby Lapa in Dwarskersbos plaasgevind. Sowat 150 vroue het dié geleentheid bygewoon – getooi in hul mooiste klere en kleure. Die gasspreker was niemand anders nie as die TV-persoonlikheid Marciel Hopkins, wat met haar sjarmante persoonlikheid en wysheid al die vroue geïnspireer het. Hopkins het inligting gedeel oor liggaamspositiwiteit en ook wenke gegee wat elke vrou saam met haar kon neem en toepas in haar lewe.

Die vroue het ’n heerlike ontbyt geniet, voorsien deur Soverby Lapa, en gesellig saam verkeer.

Talle pryse is deur gelukstrekkings weggegee, danksy die borge. Baie vroue het weggeloop met nuwe kennisse en het net goeie terugvoering oor die saamtrek gehad.

Volgens Monique Potgieter, wat die dag bygewoon het, was dit ’n heerlike oggend vol bederf, helder kleure en inspirasie.

“Marciel Hopkins se praatjie het ons geïnspireer om ’n bietjie meer liefde vir onsself te hê. Dankie, Weslander; ons maak weer so,” het Potgieter gesê.

Cecile Matthee het die Weslander-span en Soverby Lapa vir die viering bedank.

“Dit was ’n groot fees en ek het op die koop toe nuwe vroue ontmoet en vriende gemaak. Julle kan julself op die skouer klop vir nog ’n suksesvolle Vroueoggend. Sien julle volgende jaar gewis weer.”

Erna du Plessis stem ook saam dat die spreker inspirerend was.

“Net om te kan hoor dat sy ook net ’n doodgewone mens is en doodgewone probleme soos ons gehad het, en hoe sy self daardie besluit geneem het om dit te embrace en iets positief daarvan te maak, was inspirerend.”

Du Plessis het bygevoeg die saamtrek was die beste nog wat Weslander aangebied het. “Dit was heerlik om ou bekendes raak te loop. Geluk met ’n puik geselligheid, Weslander.”

You need to be Logged In to leave a comment.