‘n Jong paartjie se visvanguitstappie na Tietiesbaai by Paternoster is Dinsdag (7 Oktober) weens ‘n fratsbrander skielik in ‘n tragedie omgeskep toe hulle albei in die yskoue water beland het.

JP Louw het glo alles probeer om by sy meisie, Danielle “Dani” van Wyk (25), uit te kom, maar is deur die sterk seestroom al verder weggesleur.

Volgens Johann Mostert, Louw se kollega by AM-sekuriteit in die dorp, het hy dit later reggekry om verder af aan wal te klouter. Hy het verskeie sny- en skaafmerke aan sy lyf gehad.

Louw het probeer bel, maar geen sein ontvang nie en moes daarom eers dorp se kant toe ry om ‘n sein te kry.

Mostert was een van die eerste mense wat hy gebel het, wat toe gereël het dat die nodige nooddienste, die polisie en wetstoepassers hulle na die toneel haas.

“Dit was tussen 10-15 minute, toe was almal daar.”

Van die land af kon hulle Van Wyk eers nie sien nie, maar het haar ná ‘n tyd sien dryf.

Die plek waar die paartjie visgevang het, is ‘n gewilde visvangplek vir Weskussers en toeriste, maar is berug vir hoe diep die water daar is.

Volgens Mostert is ‘n hommeltuig ook ingespan om dop te hou waar Van Wyk haar bevind het totdat die Nasionale Seereddingsinstituut se St. Helenabaai-span vanuit Britanniabaai haar lewelose liggaam uit die water kon kom haal. Sy word beskryf as ‘n gewilde, borrelende jong mens.

• Weslander kon betyds kommentaar by Van Wyk se familie kry nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025