Vrou loop talle in met ‘poste’

Desperaatheid en leë beloftes het talle inwoners van die Weskus niks in die sak gebring nie.


Desperaatheid en leë beloftes het talle inwoners van die Weskus niks in die sak gebring nie.

Dit was nadat hulle poste aangebied is deur ’n vrou wat glo die eienaar van ’n skoonmaakdiens is en geld bestee het op vervoerkoste en om ’n polisieklaringsertifikaat te bekom.

Daar het egter dadels van gekom.

Volgens Dhylene Morrison (37) van Vredenburg, wat al amper ’n jaar werkloos is, was sy en haar ma, Felicity Jack, slagoffers van hierdie beweerde verneukspul nadat albei opgewonde was oor die nuwe werksgeleentheid wat op hul pad gekom het. Soos baie mense het hulle die advertensie vir die poste op verskeie gemeenskapsgroepe op sosiale media en WhatsApp gesien.

Sonder om twee keer te dink is die twee deur Langebaan toe waar die sakeonderneming glo geleë is. “Ons moes toe geld leen sodat ons in Langebaan kon uitkom – geld wat ons juis nie het nie – maar ons moes ’n weg vind, want dit is vir werk,” vertel Morrison.

Die ontmoeting het by die Langebaan-Thusong-saal plaasgevind waar baie mense opgedaag het. Soos Morrison verduidelik, het die vrou glo vlugtig deur die aansoekers se gegewens gegaan en gevra vir R50 vir vervoergeld vir die week asook R60 vir ’n polisieklaringsertifikaat.

“Ek is ’n kontrak gegee om te teken, maar het nie ’n onderhoud gedoen nie en niemand het aan my verduidelik wat presies ek moet doen nie. Ek [het] ook ’n klaringsvorm gekry en moes dit self invul sonder ’n amptelike polisiebeampte, wat vreemd was.”

Jack stem ook saam dat die klaringsproses nie op die regte manier gedoen is nie en niemand het omgegee nie.

“Ons was net so opgewonde en het uitgesien na die werk, want ’n mens wil graag werk. Sy het so opreg geklink, maar was ’n wolf in skaapsklere,” vertel Jack.

Ronita Dijana (36), ook van Vredenburg, sê dit is onaanvaarbaar dat mense ingedoen word uit die bietjie wat hulle het.

Dijana het ook in Langebaan opgedaag om aansoek te doen om ’n pos. Sy het ook R60 betaal vir die klaringsproses en het ook gevoel dit word nie op die regte manier gedoen nie. Daar is ook beloftes gemaak wat nooit gerealiseer het nie.

Dijana meen soms is mense so desperaat en sien nie die gevaartekens nie. “ ’n Mens voel ’n bietjie mismoedig en is bly om ’n werkie te kry. Hier is Kersfees amper om die draai en ’n mens het gedink daar kon goedjies gekoop [word],” voeg sy by. Nadat mense besef het die werk gaan nooit realiseer nie en hul geld sal nie weer terugbetaal word nie, is verskeie verklarings by die polisiekantoor afgelê en ’n saak word ondersoek. Jack meen die vrou moet boet vir wat sy gedoen het voordat sy dit verder aan nog ander mense doen.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het bevestig dat ’n klagte van diefstal ondersoek word nadat ’n 41-jarige vrou aansoek by ’n private persoon vir ’n polisieklaringsertifikaat gedoen het omdat sy dit benodig het vir ’n werk waarvoor sy aansoek gedoen het. “Die fooi is betaal, maar daar het niks gekom van die sodanige werk of sertifikaat nie,” sê Helfrich.

Sy voeg by wanneer dit by polisieklarings kom, mense te alle tye eers baie seker moet maak met wie hulle kontak maak en sake doen voordat geld betaal word en hulle dit verloor.

“Maak seker dit is ’n gevestigde onderneming as iemand anders jou klaring doen en kry verwysings.”

You need to be Logged In to leave a comment.