Die pensioentrekker van Lutzville wat daarvan beskuldig word dat hy ’n kind op 20 September langs die pad raakgery het, se swaer en vrou het Dinsdag in die Vredendal-landdroshof in die man se borgtogaansoek getuig.
Christoffel Stoman (70) se aansoek om borgtog is na ’n Bylae-5-aansoek verander, wat die onus op die beskuldigde plaas om aan die hof te bewys dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat word. Hy staan tereg op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur asook poging tot moord.
Billy Claasen, ’n gemeenskapsaktivis, het voor die hofsitting ’n petisie met 1 532 handtekeninge voorgelees waarin hy vra dat Stoman nié borgtog toegestaan word nie. Die petisie is aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig wat dit aan die staatsaanklaer oorhandig het om die hof in te lig van die gemeenskap se teenkanting teen die beskuldigde se vrylating op borgtog.
Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die NVG, het gesê die staat staan die borgtogaansoek teen.
Hy het verder gesê die verdediging se eerste getuie in die borgtogaansoek was Alain Nicholas Grobbelaar (80), Stoman se swaer en ’n afgetrede polisieman. Hy het getuig dat hy in 1966 ’n kursus in padongelukke voltooi het en vir twee en ’n half jaar tot 1968 of 1969 met padongelukke gewerk het. Hy het getuig hy stel belang in padongelukke en het na die toneel gegaan om mates te neem. Hy het die afmetings interessantheidshalwe geneem en vir ingeval die polisie nie self afmetings op die toneel neem nie.
Volgens Grobbelaar sou die ooste- en westewind wat gewaai het, die merke op die toneel beïnvloed het. Hy was die Saterdagoggend op die toneel nadat die polisie Vrydag daar was. Grobbelaar meen die polisie het dae ná hom kom afmetings doen. Hy wou sy eie waarnemings maak en het beklemtoon dat hy nie by die polisie se ondersoek wou inmeng nie. Grobbelaar het getuig hy het nie geweet hy gaan in die saak getuig nie. Die prokureur het hom glo gevra om te getuig toe hy hom buite die hofsaal sien.
Ntabazalila het gesê Grobbelaar het verduidelik hoe hy weet as ’n misdaadtoneel deur die wind geraak is, al was hy nie op die oorspronklike misdaadtoneel nie, maar hy het ontken dat hy “ingemeng het om sy swaer te help”. Hy het gesê hy is ’n voormalige polisieman en die reg moet sy loop neem.
Thandiwe Gonyela, die staatsaanklaer, het dit aan hom gestel dat hy na die toneel gegaan het om die strafregstelsel te ondermyn, die ondersoek te ondermyn en die indruk te skep dat die polisie onbevoeg is en nie behoorlik ondersoek sou instel nie.
Magdalene Stoman (75), Stoman se vrou, het getuig dat hulle al 45 jaar getroud is. Die dag van die voorval was sy saam met haar man en kleinkind in die voertuig. Stoman het bestuur.
Hulle het albei kanker en het die dag van ’n onkoloog in Cape Gate in die Kaap teruggery.
Hulle het die seun en sy ma langs hul eiendom opgemerk en volgens Magdalene se getuienis het die seun sy hand deur die heining gehad. Sy het haar man gevra om stil te hou sodat hulle kan sien wat die mense doen.
Sy het in die passasiersitplek gesit en hul kleinkind agter.
Die seun was aan die voertuig se passasierskant terwyl sy ma aan die bestuurskant van die voertuig was.
Die ma was nie naby haar kind nie en het toe geskree dat haar kind onder die voertuig is.
Magdalene het getuig dat sy aan haar man gesê het die kind is onder die voertuig en hom gevra om agteruit te ry. Hulle het uit die voertuig geklim en die kind nie onder die voertuig nie maar onder die voorste buffer gekry.
Volgens Magdalene het sy vir die kind se ma gesê hulle moet hulp kry, maar die ma het gesê hulle het nie hulp nodig nie; sy weet wat sy gaan doen en die Stomans gaan betaal.
Die ma het volgens Magdalene die seun opgetel en hom in die rigting van Lutzville gesleep. Magdalene het getuig dat sy die ma gevra het of hulle hul dokter, ene dr. Murray, kan kry om na die seun te kyk. Stoman het ook die polisie gebel om te kom help nadat die ma die kind weggevat het.
Magdalene het nie gehoor hoe haar man sê hy sal hulle ’n rygeleentheid gee nie, maar sy het bevestig dat hy kwaad was toe hy gevra het hoekom hulle hul lemoene neem aangesien hulle baie sulke probleme ervaar.
Magdalene het nie geweet hoe die kind onder die voertuig beland het nie.
Die aansoek om borgtog is uitgestel tot Vrydag 4 Oktober vir verdere bewyse, Magdalene se kruisondervraging en moontlik die staat se stel van sy saak.
Stoman word aangehou en Magdalene is gewaarsku dat sy onder eed is en nie die saak met enigiemand, naamlik die verdediging of haar man, mag bespreek nie.