“Dit het letterlik gevoel asof iemand ’n bak ys in my gesig gooi en die wind uit my seile skop.”
Só onthou Queena Bartlett-Brink van Saldanha die oomblik toe fase 3-estrogeen-reseptor-positiewe borskanker in 2010 op 36-jarige ouderdom by haar gediagnoseer is – ’n diagnose wat sy glad nie verwag het nie.
Borskankermaand vind in Oktober plaas om bewusmaking te skep.
Volgens Queena het sy ’n knop op haar bors ontdek toe sy haar ná ’n bad afgedroog het. As ’n geregistreerde militêre verpleegkundige het sy besef sy moet die knop dophou en vasstel of dit groter of kleiner word.
“Ek was nie onmiddellik angstig en het nie aan kanker gedink nie; ek het meer in die lyn van ’n onskadelike sist gedink,” sê Queena.
Die eerste stap wat sy geneem het, was ’n mammogram, gevolg deur ’n biopsie van die knop. Queena sê die biopsie-uitslae het ’n tydjie geneem en die gewag het soos ’n ewigheid gevoel.
Spesifieke behandeling
“Die dokter wat die nuus van die biopsie-uitslae aan my oorgedra het, kon dit anders hanteer het. Die nuus is telefonies oorgedra terwyl ek saam met my 10-jarige dogter en vyfjarige seun in ’n winkelsentrum was – juis om net ’n bietjie uit die huis te kom en my gedagtes weg te bring van die uitslae. Ek weet tot vandag toe nie hoe ek ná die nuus huis toe bestuur het nie.”
Queena se behandeling was baie spesifiek en is deur ’n groep dokters beplan. Omdat die kanker-massa so groot was, was ses maande se chemoterapie by Groote Schuur- hospitaal die eerste stap om dié massa te laat krimp. Queena is dankbaar vir die span wat na haar omgesien het en beskryf hulle as engele met vlerke in uniform.
Die tweede stap was om die linkerbors te laat verwyder.
“Die operasie was vir my soos ’n hoogtepunt en so mal soos dit klink, was dit vir my ’n fisieke skeiding van die kanker – die kanker wat aan my gekleef het sonder my toestemming, soos ’n skelm wat my lewe wou steel, maar net weggekom het met my vlees, my siel intak.”
Dokters het vasgestel die kanker was ook in haar limfkliere in haar onderarm teenwoordig. Dit is ook verwyder. Queena sê dat die herstelproses was vir haar makliker, wetend dat alle kanker verwyder is.
Met haar geloof in die Vader en haar positiewe gesindheid was Queena gereed vir enigiets. Tans is sy 14 jaar kankervry en moedig ander op hierdie reis aan om ’n positiewe gesindheid te behou.
“Ek is hier om te sê vroeë diagnose, intervensie en behandeling is belangrik. Een ding wat ek met my diagnose ondervind het, is dat mense om jou, soos familie, vriende en kollegas, jou diagnose moeiliker hanteer. Ek het my baie gekry waar ek my ondersteuners moes troos en vir hulle drukkies gee en sê dit gaan oukei wees.”
Queena moedig ook mense aan deur te sê al lyk alles donker, hoef jy nie alleen deur die stryd te worstel nie.
- Besoek Cansa.org.za vir meer inligting en hulp.