Om jongmense te help, is iets waarvoor Thomas Lotz hom beywer.
Dié inwoner van Vredenburg het ’n groep met die naam Brothers Reach Out (B.R.O.) gestig met die doel om jongmanne in die gemeenskap te ondersteun.
Volgens Lotz bestaan die groep tans uit 12 manne van verskeie dorpe wat saamspan om ’n verskil in die lewe van jongmense te maak.
Die idee het in 2019 by Lotz opgekom en het in Augustus vanjaar met die hulp van sy vriend Trevino Isaacs ’n werklikheid geword. Isaacs sê hy het ’n groot hart vir mense en dis hoekom hy besluit het om by die groep aan te sluit. Hy glo dat die groep die potensiaal het om ’n groot impak te maak in die lewens van ander.
Lotz sê hy het die groep begin omdat die jeug baie uitdagings en behoeftes het – veral maatskaplike behoeftes.
“Baie kinders het sekere benodighede broodnodig wanneer hulle kollege of universiteit toe moet gaan. Daar is altyd ’n behoefte aan dinge op ’n lys wat hulle moet saamneem, en ek het al baie kere gesien hoe baie ouers nie die goed op die lys kan bekostig nie,” vertel Lotz.
Dit is waar die groep inspring om te help – nie net finansieel nie, maar ook emosioneel.
Hy sê hy glo daaraan om kontak met jongmense te hou en hul vordering te monitor wanneer hulle die wêreld invaar. “Hierdie jongmense kom terug na ons gemeenskappe as dokters, verpleegsters, polisiebeamptes en meer.”
Lotz sê dit is vir die groep belangrik om as rolmodelle in die lewe vir die jongmanne op ’n jong ouderdom te dien. “Om waardes in hul lewe te vestig en hulle verantwoordelikheid te leer – nie net vir hulself nie, maar vir die vroue in ons gemeenskappe en die gemeenskappe in geheel.”
Lotz nooi ander manne om by die groep betrokke te raak en so ’n verskil te maak. As jy deel van die groep wil wees, kontak Lotz by 078 528 8581 of Isaacs by 066 236 6907.