Vredenburg-polisielede vas vir korrupsie, dwelms

Landdros Martie Wilson het Donderdag voor ’n stampvol hof borgtog van R2000 aan vier van die beskuldigdes toegestaan. Die vyfde polisiebeampte, wat voor haar inhegtenisname werksaam in die Vredenburghof was, het borgtog van R1000 gekry.


Polisiebeamptes verbind met Vredenburg se polisiekantoor is Dinsdag 21 Augustus tot die groot verbasing van hul kollegas by die werk in uniform deur die polisie se teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem.

Een van die vyf wat in hegtenis geneem was, is ’n voormalige polisiebeampte van Vredenburg en is in Kaapstad vasgetrek waar hy vir die misdaadreaksie-eenheid (flying squad) werk.

Nog een het onlangs bedank en was nie meer werksaam by Vredenburg polisiekantoor nie. Die beamptes, vier mans en ’n vrou het Dinsdag in die Vredenburghof verskyn. 

Die klagtes teen Gillian Pillay, Elton Cloete, Lauren Malgas, Elton Wilsnach en Brendall Cananie sluit onder meer korrupsie, bedrog, die bekendmaking van ongemagtigde inligting en handel in dwelms in.

Landdros Martie Wilson het Donderdag voor ’n stampvol hof borgtog van R2000 aan vier van die beskuldigdes toegestaan. Die vyfde polisiebeampte, wat voor haar inhegtenisname werksaam in die Vredenburghof was, het borgtog van R1000 gekry.

Daar word beweer die beskuldigdes het die misdrywe gepleeg terwyl hulle aan diens was en het saam met lede van die gemeenskap gewerk om dwelms te vervoer. Aantygings sluit ook in die vervalsing van inligting en die ontvang van omkoopgeld.

Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder het nog ’n beampte sedert die inhegtenisneming van die vyf individue uit die polisie bedank. Hy sê hy hoop die inhegtenisneming van hierdie polisielede stuur ’n sterk boodskap dat korrupsie geensins in die polisie geduld sal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.